BY CATHARINA VAN DER MESCHT
Die koshuishokkie-winterliga het die afgelope week tot ’n dramatiese einde gekom toe die Medies-spanne Donderdagaand as die kampioene van beide die mans- en vroueliga gekroon is.
Die vroueliga-finaal het tussen Medies Vroue en Oudstudente afgespeel. Medies het die wedstryd met ’n eindtelling van 1-0 gewen nadat Erica van Rooyen, Medies-hokkiespeler, die enigste doel van die wedstryd in die eerste helfte aangeteken het.
Die Oudstudente het hul bes probeer om op te vang, maar Medies se onwrikbare verdediging het verseker dat die trofee in hul hande beland het. Medies het ook die Oudstudente se doelwagter op haar tone gehou en sy moes menigte male keer vir lewe en dood om die bal uit die doelhok te hou.
Volgens Gretchen Zwiegers, Oudstudent-speler, was die wedstryd maar rof en onbeskof soos dit ’n goeie hokkiekragmeting betaam, juis omdat beide spanne hul alles gegee het.
“Ek wil nie iemand uitsonder nie, maar ons doelwagter was regtig vir my uitstekend,” het sy gesê. Sy het bygevoeg dat haar span steeds trots kan voel oor hul veggees en die gehalte van hul spel, al het hulle verloor.
’n Skare toeskouers het die vrouespanne kom ondersteun tydens hul taai geveg op die baan. Emja Langeveldt, Medies-hokkiespeler, sê haar gunstelingoomblik van die liga was toe Medies Vroue en Medies Mans albei die finale gewen het, boonop “met ’n pawiljoen vol ondersteuners al die pad vanaf Tygerberg”.
In die mansliga-finaal het Medies net-net vir Huis Visser met 2-1 geklop. Huis Visser het in die eerste helfte ’n doel aangeteken, maar hul momentum was vinnig daarna deur ’n geelkaart onderbreek. Hulle het egter teen halftyd 1-0 voorgeloop.
Binne die eerste vier minute van die tweede helfte het Pieter Mienie, Medies-speler, ’n skitterende doel aangeteken. ’n Groenkaart is kort daarna as waarskuwing aan Medies toegeken, maar die span het kopgehou en nie toegelaat dat dit hulle keer nie. Met 20 minute op die horlosie oor, het Mienie weer ’n doel aangeteken.
Eskom het ook ’n onverwagse invloed op die wedstryd gehad toe die krag om 20:15 afgegaan het en die baan in donkerte gehul was. Die spelers moes tot 20:23 wag vir die krag om weer aan te gaan.
“Die tydsberekening kon nie slegter gewees het nie. Ons was besig om baie druk op hulle [Medies Mans] te plaas op daardie punt en dit het gelyk asof dit als weggeval het toe die wedstryd weer begin het. Dankie Eskom,” het Gareth Simmonds, Huis Visser-speler, gesê. Simmonds beweer wel dat sy span hul beste gegee het en ’n goeie wedstryd gespeel het. “Medies was ’n baie sterk span en ons het ’n goeie geveg opgesit, maar daar gaan altyd ʼn wenner en ’n verloorder in sport wees. Ons was net dié keer die verloorder.”
William Gardiner, Medies-hokkiespeler, het gesê dat sport oor baie meer as net “die uur op die veld” gaan.
“As mens die sport eerbaar kan beoefen, dink ek jy het regtig sukses daarin bereik. In die jare wat kom, sal ons aanhou streef na goeie gehalte hokkie en om dit met ’n gesindheid, wat beide onsself en ons opposisie respekteer, te beoefen.”
In die plaatafdeling van die koshuishokkieliga was die manswenners Olympus en die vroueplaatwenners Academia.