Francois van Coke verlede jaar by Liefde by die Dam. Foto: Verskaf

Bietjie Liefde by die Dam

Liefde by die Dam is terug in die Kaap vir die tweede keer. Dominique Fuchs praat oor wat verwag kan word hierdie jaar.

Liefde by die Dam 2.0 maak op 16 November weer ’n verskyning in die Kaap by Meerendal Wynplaas. Die show is vernoem na Valiant Swart se trefferliedjie en moet magical wees, want verlede jaar het iemand propose op die verhoog.

The Voice SA-wenner, Tasché Burger, gaan vir die eerste keer hier optree saam met ander bekendes soos Die Heuwels Fantaties, Francois van Coke, Early B, Majozi en Loki Rothman. Die legendariese Arno Carstens gaan ook vir die eerste keer optree by die Liefde by die Dam-reeks en gaan meestal liedjies van sy album Die Aandblom 13 en ’n paar van sy wêreldbekende liedjies speel.

Schalk Bezuidenhout, die geliefde komediant, sal die event interessant hou deur die gasheer te wees. Bezuidenhout het ook gesê dat mens meer liefde kan gee vir ander: “deur te reply! Niks wys ’n gebrek aan liefde soos geen antwoord op WhatsApp nie, of dit nou jou meisie of jou ma is. Die mense met die koudste harte in hierdie wêreld is die mense wat jou boodskap lees en jou los met twee blou ticks en ’n gebroke hart.”

Lukraaketaar, ’n akoestiese musiekduo wat na 11 jaar weer terug is op Suid-Afrika se musiek-scene, gaan ook te siene wees. Dié duo bestaan uit die gesoute Pierre Greeff, geliefde voorsanger van Die Heuwels Fantasties, en Alwyn Kotzé. Nes vele ander musiekgroepe het hul reis in die geliefde Bos begin.

Pierre Greeff, een van die organiseerders van Liefde by die Dam sê: “Meerendal met die wynlande en berge as prentjiemooi agtergrond is die ideale venue vir ons Kaapse konsert. Hierdie jaar maak ons meer spasie vir konsertgangers en daar sal ook meer kroeg-fasiliteite wees. Kom kuier saam!”

Soos die meeste jongmense hoop ek van harte dat daar minder ouer garde by hierdie jaar se Liefde by die Dam sal wees nadat ek laasjaar een van my hoërskoolonderwysers raakgeloop het. Verlede jaar was ’n stowwerige affêre met sand wat óral vasgesit het. Liefde by die Dam is effens misleidend, want ’n mens kan nie daarin swem om van die sanderigheid ontslae te raak nie. Berei jouself voor op die afgryslike Kaapse wind, afgryslike duur drankpryse, ’n afgryslike verkeersopeenhoping, maar een moerse jol. Maak gereed vir “Dagdronk”, want by Liefde by die Dam is dit nie net ’n liedjie in die agtergrond nie, maar ’n realiteit vir lede van die gehoor.

Geen vloeistowwe mag ingeneem word nie en kaartjies is steeds beskikbaar op Howler teen R195. Dit begin om 9:00 en sal 18:00 eindig. Die event is kontantloos en geld kan voor die tyd op ’n Howler-armbandjie gelaai word. Vir die kosvrate sal daar ’n verskeidenheid kostrokke beskikbaar wees om hul cravings te demp.

Liefde Wen samel na die afloop van die konsert komberse in vir minderbevoorregtes. Greeff sê: “Ons help graag ander, bring jou kombers en los dit na die konsert. Liefde Wen sal seker maak dit kry die regte huis.”

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram