Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR LIAN VAN WYK

DIE MATIES GIMNASTE het sakkevol indrukwekkende truuks. Dit weet enigeen wat onlangs hul video op die groot skerm in die Neelsie gesien het.

Dit is moeilik om dié aanloklike kombinasie van spronge, bollema­kiesies en lawwigheid mis te kyk. Figure op ’n skerm bly ongelukkig nou maar eenmaal buite bereik, maar soos dit nuuskierige joerna­liste betaam, het Die Matie by die groep tuimeltowenaars gaan aan­klop om uit te vind waarmee hulle hulself besig hou.

Volgens Patrick Moerkhe, Ma­ties Gimnastiek se tesourier vir 2018/2019, was dié klub, afgesien van sy ryk geskiedenis en top ge­halte afrigting, nog altyd ’n plek waar studente van hulle stres ont­slae kon raak.

“Studente kan hul lywe oefen terwyl hulle deel raak van ’n ge­meenskap waar ’n gedeelde liefde vir gimnastiek bande van vriends­kap smee.”

Oor hierdie punt blyk daar geen struweling onder die gimnaste te wees nie. Danial De Gouveia, ’n komiteelid en natuur­lik ook ’n gimnas, sê dat Maties Gimnastiek soos ’n familie is.

“In my drie gimnastiekgevul­de jare hier op Stellenbosch het ek nog nêrens anders meer tuis ge­voel nie.

“Hier by Maties Gimnastiek het ek ongelooflike vriende gemaak en van die beste oomblikke in my lewe ervaar, of dit nou met gim­nastiek te doen gehad het of nie. Hierdie gevoel bly my jaar na jaar by, al vang party van die gimnaste graad of trek weg. Maties Gimnas­tiek se vibe lê diep en dit smeer op elke lid, nuut of ervare, af.”

Elke familie het tog ’n gom wat dit bymekaar hou en die Maties Gimnastiek-familie is geen uitson­dering nie.

Die klub is in die vroeë 1980’s deur Fred en Jenny Roebuck op die been gebring en is op die Van der Stel Sportgronde geleë. Dit het begin met slegs drie lede, maar het veelvoudig uitgebrei en word van­dag deur ’n uitvoerende komitee van studente bestuur, wat in die 2018/2019 termyn deur Tommie van Eeden, die voorsitter, en Mari van der Westhuizen, die onder­voorsitter, gelei is.

Lede betaal ’n jaarlikse of half-jaarlikse fooi, wat volgens Van der Westhuizen vir die onderhoud van die klub se fasiliteite, afrigters se salarisse en ander bedryfskostes gebruik word. Sy sê die klub is nie slegs vir studente nie en dat dit werkende mense en studente van ander instellings verwelkom.

Die gimnaste word deur vier afrigters afgerig, almal onder toe­sig van Noko Dalisiko, die klub se sportbestuurder. Oloff Bergh is die hoofafrigter, Maia Rawlins is ver­antwoordelik vir die vroue, David Carmichael-Green vir die mans en Amy Marais rig ritmiese gimnas­tiek af. Die span oefen regdeur die jaar, eksamens en vakansies inge­sluit, en dit blyk nie sonder rede te wees nie.

Moerkhe sê die span neem elke jaar in Junie aan die USSA-gim­nastiekkompetisie deel waar hul­le teen die NWU, UK, Tukkies en Wits kompeteer. Hulle is ook be­trokke by ’n jaarlikse vriendskapli­ke Intervarsity-kompetisie teen die UK. Individue het die geleentheid om aan die Wes-Kaap proewe deel te neem en as hulle goed genoeg vaar, kan hulle aan die nasionale kompetisie deelneem.

Ernstige kompetisie is egter nie altyd aan die orde van die dag by Maties Gimnastiek nie en die klub bied iets vir elkeen van sy lede.

“Ons het iets vir alle gimnaste, of hulle nou sopas begin het of ge­vorderd is in die sport. Niemand behoort te dink dat hulle nie goed genoeg is om by Maties Gimnas­tiek aan te sluit nie,” sê Van der Westhuizen.

Matthias Reich, ’n voormali­ge Maties-gimnas, beaam hierdie stelling.

“Die hele besigheid is ’n lekker mengsel van toewyding en pure pret. Party mense kom een keer ’n week om net rond te bons en ander is nogal toegewyd, alhoewel hulle ook partykeer net rond bons.”

Oefeninge vind Maandae tot Donderdae plaas en met ’n wye reeks dissiplines wat ritmiese en artistiese gimnastiek, trampoliene en ’n oneindige reeks tuimelinge insluit, is daar vir die lede van dié klub te kies en te keur. Dit klink egter nie asof hulle hulself heeltyd in die gimnasium afsloof nie.

“Die banter by die klub is iets om te beleef. Ek het al telkemale meer gelag as wat ek geoefen het,” sê Reandie Fick, ’n komiteelid. Dit is egter nie net banter waarna voor­nemende Maties-gimnaste kan uit­sien nie. Die klub speel pool en kry mekaar vir sushi. Kampe en stap­toere in die omliggende area is ook deel van die sosiale kalender.

Hierdie aktiwiteite mag dalk studentegerig klink, maar volgens Mariska Smithers, een van die lede van die klub wat nie meer studeer nie, is dit glad nie die geval nie.

“Ek het baie meer by die klub gevind as waarvoor ek gehoop het. Met die aanmoediging van die komiteelede en deur die oop harte van elke Maties-gimnas het ek baie gou soos ’n lid van die fa­milie gevoel. Ek is dalk nie meer ’n student nie, maar ek word altyd by die pret ingesluit, selfs buite die gimnasium,” sê Smithers.

Dit is dan ’n klein deeltjie van die Maties Gimnastiek-storie. Dié wat daarby betrokke is, is toege­wyd aan hul sport en hul klub en dit is lekker om te sien. Van der Westhuizen vat dit mooi saam:

“Kom loer by Maties Gimnas­tiek in. Jy sal nie daaroor spyt wees nie. Ons is regtig een groot fami­lie en ons ken almal mekaar. Ons sweet en lag saam en ons deel ons uitdagings en suksesse. Op die ou end bring ons die beste in mekaar uit. Die klub is ’n plek waar ons saam ons grense toets en waar ons vriende maak wat ons die res van ons lewe sal bybly.”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial