Annerine Snyman
Maties Netbal het Maandagaand ’n bonuspunt met drie doele in die tweede ronde van die Varsity Netbaltoernooi misgeloop.
Die span het in die Coetzenburg-sentrum teen die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) te staan gekom met ’n aansienlik geskommelde span teenoor die vorige wedstryd. Nicholé Taljaard en Adri Uys, wat as HD (ook kaptein) en AV onderskeidelik in die beginspan teen Pukke in die vorige ronde opgedraf het, was twee van die spelers wat op die bank gesit het met die aanvang van die eerste kwart.
Maties het dus met ’n jonger en minder ervare span die eerste gedeelte van die spel teen TUT aangedurf.
Die tuis span het met stadiger as normale spel dit tog vermag om teen die einde van die derde kwart 31–14 voor te loop. Hulle sou egter 19 doele in die laaste kwart bymekaar moes skraap om ’n bonuspunt, wat toegeken word as ’n span 50 of meer doele sink, te behaal.
Maties het misluk in daardie poging, maar het steeds die wen behaal met 46–17.
Khomotso Mamburu, wat as die Wimpy Moment Maker van die wedstryd aangewys is, sê sy is, ondanks die wen, teleurgesteld dat die span nie die bonuspunt kon behaal nie.
“Dit was ’n goeie wedstryd, maar ek is eintlik nogal teleurgesteld, want jy jaag maar altyd jou bonuspunt, die 50 punte, en ek is so teneergedruk dat ons nie daarby uitgekom het nie,” het sy na afloop van die wedstryd gesê.
Die Maroen Masjien het ietwat laat in die spel spoed begin optel nadat daar verskuiwings in die tweede kwart gemaak is met Taljaard en Uys terug in hulle posisies van die vorige wedstryd.
Die spoed is egter weer in die derde en vierde kwarte verbreek toe nuwe verskuiwings weer die voriges ongedaan gemaak het. ’n Paar verbroude kanse, veral toe Maties se powerplay geroep is, waar TUT agt doele gesink het en Maties slegs ses, sal die span dwing om sekere besluite in die komende rondes, veral teen sterker spanne te laat heroorweeg.
Nicola Smith, wat in die laaste gedeelte van die wedstryd verdediger gespeel het en ook as die Pulse Interceptor van die wedstryd aangewys is, sê daar is wel ’n paar positiewe om uit die wedstryd te neem.
“Ons het regtig goed as ’n span saam gespeel en dit is altyd ’n eer om hier te speel. Ons verdediging was veral uitstekend,” sê sy.
Maties reis hierdie naweek na Port Elizabeth om Sondag 8 September teen Madibaz en Maandag 9 September teen Tuks te speel. Sondag se wedstryd sal om 16:30 op SuperSport 7 (DSTV kanaal 207) uitgesaai word.