Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Maties Netbal het vanjaar se Varsity Netbal-seisoen met ’n groot oorwinning begin. Die span het die NWU-Pukke Maandagaand van die baan afgespeel en ’n 54–38 oorwinning behaal.

Dít is volgens Nicholé Taljaard, Maties-kaptein, nie hoe dit vir die spelers op die baan gevoel het nie. “Die telling weerspieël nie die stryd wat dit geverg het om te wen nie. Hulle is ’n baie sterk span. Dit is ook maar net die begin van die seisoen en ons moes beslis hard werk daarvoor,” sê sy.

Maties het gedurende die wedstryd minder ongedwonge foute as hulle Potchefstroomse opponente gemaak, maar Zanele Mdodana, Maties-afrigter, meen dat hulle in toekomstige wedstryde daarop moet fokus om nog minder foute te maak. “Ons het dit reggekry om vanaand al 12 spelers te laat speel en sommige van hierdie kombinasies het nie so glad verloop soos wat ons dit sou wou hê nie,” verduidelik sy. “Ons moet aanhou klinies speel, selfs wanneer ons voorloop.”

Maties se verdedigers was veral ook ’n steunpilaar vir die span se wenpoging en het grootliks tot hulle sukses bygedra toe die doelgemiddelde ongeveer gelyk was. Uitstaande spelers sluit Jo Prins (senter), Sasha-Lee Petersen (VV), Khomotso Mamburu (HV), Stephanie Brandt (V) en Adri Uys (AV) in. Maties, wat teen Pukke in die USSA-eindstryd in Julie die knie gebuig het en met die silwer medalje Johannesburg verlaat het, het Maandag die hare op hul tande gewys.

Taljaard prys haar span se poging en het hulle met die oorwinning gelukgewens. Sy beklemtoon egter dat dit belangrik is om vorentoe te kyk.

“Elke speler het hard gewerk en het speeltyd gekry en bewys waarom hulle vir die span gekies is,” sê sy. “Noudat die wedstryd klaar is, moet ons daarvan vergeet, ons fokus op die volgende wedstryd plaas en voorberei, aangesien elke span anders is. Ons sal ons wedstrydplan daarvolgens moet aanpas.”

Mdodana het ook gesê dat daar nog ’n lang pad vir die span voorlê en dat hulle seker weer teen Pukke in die semi-finaal sal speel. “Vanaand is ons dankbaar vir die wen. Ek is trots op die meisies.”

Charmaine Baard, oud-Matiespeler, meen dat die span ’n goeie vertoning gelewer het, maar dat daar wel sekere aspekte is wat kan verbeter. “Vir ’n eerste wedstryd, en veral teen Pukke, is dit ’n groot oorwinning. Dit is ook ’n groot hupstoot vir die span se selfvertoue en ek glo dat daar ’n goeie seisoen vir die span voorlê,” sê sy.

Maties speel 2 September teen Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in die Coetzenburg-sentrum om 19:00. Dié wedstryd sal op DSTV kanaal 209 uitgesaai word.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial