Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

ANNERINE SNYMAN

Die vuur wat op die aand van 12 Augustus in een van die kamers op Huis ten Bosch (HtB) se derde vloer uitgebreek het, het ál 164 inwoners tydelik sonder blyplek gelaat.

In ’n verklaring, net meer as ’n week ná dié insident, het prof. Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, bevestig “alle studente het blyplek”.

Hy bedank die inwoners van HtB vir hulle samewerking en sê dat die “belangrikste mylpaal”, naamlik om vir alle inwoners blyplek vir die res van die semester te vind, bereik is. Hy verduidelik verder dat die versekeraars ná hul ondersoeke vasgestel het dat die “gebou weens aansienlike brand- en waterskade aan meer as net die derde vloer, nie veilig vir bewoning sou wees vir die res van die semester terwyl herstelwerk gedoen word nie”.

Volgens Martin Viljoen, die Universiteit Stellenbosch (US) se woordvoerder, is Marsh die universiteit se “formeel-aangestelde korttermyn versekeringsmakelaar”. Viljoen verduidelik ook verder dat die universiteit se versekeraars, in oorleg met Marsh, die forensiese ondersoek op die perseel sal behartig. Studente is volgens Viljoen self vir die versekering van hul persoonlike bates verantwoordelik en die US sal “nie daarvoor kan instaan nie”. “Die US het wel as ’n gebaar van welwillendheid ’n ex gratia-betaling gedoen uit eie fondse vir die direk-geaffekteerde 14 studente. Voorts is ’n hulpfonds gestig waar skenkings inbetaal word,” het Viljoen bygevoeg.

Die oorsaak van die brand is egter steeds nie bekend nie en Viljoen sê dat dit nog te vroeg is om mening te gee oor of enige student daarvoor aanspreeklik gehou sal word, indien dit deur ’n student veroorsaak is.

Volgens Ella van Rensburg, HtB se prim vanaf 1 September, is dit ’n uitdaging dat die HtB-inwoners tans oor verskeie plekke versprei is. “Dit is ’n groot aanpassing vir meeste van die HtB-inwoners wat, soos ek, daaraan gewoond is om bekende gesigte om elke draai in die koshuis raak te loop,” sê sy. Sy het egter moed dat die band wat in hulle gemeenskap gevorm is, hulle deur dié aanpassing sal help.

“Ons het baie karakter en die uitdagings wat die aand van 12 Augustus ons nou laat is net nog ’n fase waardeur ons gemeenskap versterk sal word en ons karakter bou,” meen Van Rensburg. Van Rensburg sê ook dat sy weet die vuur se skade sal vir ’n lang tydperk ’n impak op menigte fasette van die koshuis hê.

Inwoners word nie in die koshuis toegelaat nie en Viljoen sê daar sal van die konstruksiemaatskappy versoek word om die gebou in fases op te bou, indien dit moontlik is. Die doel hiervan is om gedeeltes van die koshuis in 2020 in fases oop te stel. “Die konstruksieskedule sal teen die einde van September beskikbaar wees vir verdere beplanning met die oog op 2020,” sê hy.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial