Toyota borg Woordfees; Steve bly weg

S.Z. MINNAAR

WOORDFEES is van nou af tougherer. Nadat Toyata SA mede-naamborgregte vir Stellenbosch se “jool vir oumense” bekom het, staan die Woordfees nou amptelik as die Toyota US Woordfees bekend.

Toyata is een van die maatskappye wat verlede maand in die nuus was nadat hulle as borg van Afrikaans is Groot (AIG) onttrek het.

Die rits ontrekkings volg op ’n twiet uit 2014 van Steve Hofmeyr, wat by AIG gaan optree, wat hewige reaksie op sosiale media ontlok het. “Dit het ’n verdelende krag geword en ons bly polities neutraal,” sê Lettie Labauschagne, hoofbestuurder van bemarkingskommunikasie by Toyota SA, oor die borgskapontrekking.

Sy beklemtoon egter dat die Woordfees-borgskap “heeltemal onverwant aan Afrikaans is Groot (AIG)” is.

Volgens Marais is die ideaal in enige samelewing dat die kunste totaal onafhanklik moet wees “Saartjie [Botha] sê altyd:

‘Sonder kunstenaars is ons nie en sonder borge kan ons nie.’

Dit is gewoon die werklikheid van die kunsomgewing,” sê Danie Marais, woordvoerder van die Woordfees. Die Toyota-borgskap is nie ’n ding wat oornag gebeur het nie meen Marais.

“Die Woordfees maak al vier jaar lank voorleggings. Ons wou altyd graag ’n voertuigborg kry.

Nie net om op die langtermyn in te koop op die fees nie, maar ook om ’n vervoerborg te kry vir die pendeldiens en so aan,” sê Marais.

Labauschagne sê dat hulle nog seker is hoe die borgskap aangewend gaan word nie en dat hulle nog “die fynere detail gaan […] uitwerk”. Sy voeg ook by dat die Woordfees ’n wye gehoor dien en dat daar baie geleenthede is wat hulle kan ondersoek.

En die kanse dat Steve Hofmeyr by die Woordfees optree? Volgens Marais het Hofmeyr nie die laaste paar jaar aansoek vir die fees gedoen nie. “Mens moet maar elke aansoek op meriete hanteer. Dis nie asof die Woordfees ’n Steve-standpunt het om te maak nie.”

Hofmeyer was in 2014 by die Woordfees waar hy met Deon Meyer in gesprek was oor sy boek Laaste dans, Drienie. Met navraag of Hofmeyer van plan is om in te skryf vir volgende jaar se Woordfees, het Johan Victor, Hofmeyr se regsverteenwoordiger, gesê:

“Mnr. Hofmeyr het nog nooit amptelik versoek om aan die Woordfees deel te neem nie aangesien daar oënskynlik nie aptyt vir “country” musiek of pop-musiek is by die Woordfees nie.

Na alles is die Woordfees inderdaad ’n ‘KUNSFEES’! [sic]

“Mnr. Hofmeyr het nie tans ’ʼn boek wat gereed sal wees vir publikasie voor die datum van sluiting van “aansoeke” om by die Woordfees 2020 op te tree nie en voorsien hy dus nie dat hy sal aansoek doen om aan die 2020 Woordfees deel te neem nie.”

Foto’s: Twitter/ steve_hofmeyr en ToyotaSA

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram