Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Jana Greyling

Die nuwe Afrikaanse film Meerkat Maantuig deur bekende regisseur en skrywer Hanneke Schutte, word op 16 Maart 2018 in Suid-Afrika vrygestel.

Dit is al voor sy amptelike debuut in Suid-Afrika by 12 verskillende internasionale filmfeeste aanvaar en die kinematograaf, Willie Nel, het die prys vir die beste kinematografie by die 2017 Silwerskerm Fees gewen.

Die film, wat elemente van magiese realisme inkorpereer, is geïnspireer deur die jeugnovella Blinde Sambok
deur Riana Scheepers. Hanneke Schutte, die skrywer en regisseur van Meerkat Maantuig, is al ses jaar gelede
genader om die boek in ʼn speelfilm te omskep.

Die film volg Gideonette de la Rey, ’n dertien-jarige wie se familienaam vervloek is. Haar familielede sterf
almal in fratsongelukke. Wanneer sy die laaste oorlewende lid van haar familie is wat die familienaam dra,
verval sy in depressie en word ʼn hipokondriak.

Op haar grootouers se plaas in Magoebaskloof ontmoet sy vir Bhubesi, ʼn jong, dowe seuntjie, wat ʼn ruimtevaarder wil word. Met die hulp van Bhubesi en sy tuisgemaakte maantuig moet sy haar vrese oorwin en die familievloek breek.

Die film se hoofkarakters word deur bekende Suid-Afrikaanse akteurs soos Anchen du Plessis, wat onlangs
in Vaselinetjie verskyn het, Pierre van Pletzen, wat veral bekend is vir sy rol as Oubaas in 7de Laan, en Rika
Sennet, wat drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het, vertolk.

Om dit in ʼn vollengte speelfilm te maak, moes Schutte egter die maantuig-storielyn byvoeg. Sy het ook besluit om die storie in die mistige woude van Magoebaskloof te laat afspeel om ʼn magiese en
sprokiesagtige kwaliteit daaraan te verleen.

Oor die ervaring om as skrywer en as regisseur aan die film te werk sê sy:

“Dit was ʼn onvergeetlike ervaring! Daar is net voordele daaran om die skrywer en die regisseur te wees want jy kan elke aspek van die proses beheer en die film jou eie maak.”

Die film se boodskap aan die gehoor is dat almal hulle vrese kan oorkom en dat almal hulle “persoonlike
narratiewe kan herskryf deur die moed te kry om die monsters in die gesig te staar in plaas daarvan om weg te
hardloop van hulle af”.

Volgens Schutte is die temas van die storie universeёl en die film “integreer hulle om ʼn Suid-Afrikaanse film te skep wat mooi, betekenisvol en magies is.”

Foto: Dehan Janse van Rensburg

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial