Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Jana Greyling

Charl du Toit (24), ’n BEd-honneursstudent, is ’n bekende gesig op kampus sowel as op die atletiekbaan. Hy het reeds aan verskeie internasionale atletiekbyeenkomste deelgeneem en het by die 2016 Paralimpiese Spele in Rio twee goue medaljes in onderskeidelik die 100m en 400m verower.

Du Toit is vanjaar vir die tweede keer ’n IMAS-beurshouer. IMAS staan vir “Integrated Medicine and Science” en hierdie beurs word deur Maties Sport se hoë prestasie-afdeling aan studente wat uitsonderlik in hulle sport presteer, toegeken.

Om vir dié beurs te kwalifiseer, moet kandidate nie net op die sportveld presteer nie, maar ook akademies goed vaar. Die doel van die beurs is om ondersteuning aan atlete te verskaf. Dit lei tot verhoogde prestasie deurdat atlete toegang het tot allerhande hulpmiddele wat hulle benodig om aan te kan hou presteer.

“Ek is baie lief vir atletiek en sport oor die algemeen en die familie-atmosfeer wat by die baan geskep word, help my baie om gemotiveerd te bly,” het hy gesê.

Benewens sy studie en die ongeveer 15 uur wat hy per week aan sy sport bestee, werk Du Toit ook vir Living Legends, ’n nie-winsgewende organisasie, as projek-bestuurder van sport. Oorspronklik van Pretoria, is hy ook ’n Blou Bul-ondersteuner en geniet dit om in sy vrye tyd saam met sy vriende te braai.

Hy berei tans vir volgende jaar se Statebondspele, wat in Queensland in Australië sal plaasvind, voor.

 

Foto: Verskaf

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial