Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Lisa de Clercq

Of dit nou fietsry, visvang of braai is, ’n mens kan baie dinge by jou pa leer terwyl jy grootword. Marcos Jordaan, tans honneursstudent in Bestuursrekeningkunde by Maties, het by sy pa geleer om fudge te maak. Saam met sy broer, Istvan, is hulle nou die eienaars van die vinnig-groeiende besigheid Basilei Handcrafted Confectionery wat die enigste Amerikaanse fudge in Suid-Afrika vervaardig.

Toe die Jordaan-broers grootgeword het, het hul pa al verskillende winkels van die franchise American Fudge Factory besit. Hulle is daarom al van kleins af vertroud met die tydsame proses van Amerikaanse fudge maak. Marcos het onder andere by sy pa geleer hoe om die fudge op die regte manier te roer en sodoende genoeg lug in te werk om dit ’n gladde tekstuur te gee. “My pa is ’n suiker whizz so die lekkernye word gemaak van resepte wat ons familie self ontwikkel het,” sê Marcos.

Toe hul pa egter sy deel van die franchise verkoop, het Marcos en Istvan koppe bymekaar gesit en verlede jaar besluit om met die resepte en toerusting nuut te begin. “Ons wou ’n meer moderne en eksklusiewe reeks lekkernye ontwikkel,” sê Marcos. So het Basilei Handcrafted Confectionery toe ontstaan.

Die broers se besigheid lewer ook meer as net handgemaakte Amerikaanse fudge: Italiaanse nougat, Franse makrolletjies (macaroons), malvalekkers, noem maar op. “Ons produkte is ideaal vir troues, as korporatiewe geskenke of sommer net as ’n oulike geskenkie vir ’n soettand,” sê Marcos.

Alhoewel Marcos aanvanklik self gehelp het om die lekkergoed te maak, is hy nou hoofsaaklik net by die finansies van die besigheid betrokke. “Om die werk en my studies uit te balanseer, is nogal ’n uitdaging,” sê hy.

In Stellenbosch is Basilei se produkte by The Farmer’s Daughter in Dorpstraat te koop. Hoewel hul lekkergoed nog hoofsaaklik net in Wes-Kaapse boetiekwinkels beskikbaar is, kan dit ook aanlyn bestel word. Teen die einde van November sal dit ook by winkels in onder andere Durban en Johannesburg op die rakke pronk.

Volgens Marcos is hulle langtermyndoelwit om die lekkergoed uit te voer, “maar dit is die eksklusiwiteit van die lekkers wat dit spesiaal maak”.

Volg Basilei op Facebook by Basilei Handcrafted Confectionery of op Instagram by basilei_.

 

Marcos en Istvan Jordaan is die eienaars van Basilei Handcrafted Confectionery.
Foto: Verskaf
Volgens dié broers is dit die eksklusiwiteit van die lekkers wat dit spesiaal maak.
Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial