BEKOSTIGBARE HALAAL Van links na regs: Abeeda Davids, Maajidah Samaai en Shaygah Hendricks.
DOMINIQUE FUCHS
BEIDE Monica- en Harmonie-dameskoshuise se eetsale is in die proses om as halaal verklaar te word ná die ingryping van ’n eerstejaarstudent en HK-lid.
Daarom mag daar geen varkprodukte of alkohol in die kombuis gebruik of in die eetsaal verkoop word nie. Die besluit is geneem om ’n meer “inklusiewe” omgewing vir alle studente te skep. Tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se oriënteringstydperk moes halaal-etes spesiaal bestel en afgelewer word vir die vier eerstejaar-Moslemstudente van die koshuis. Die eetsaal van dié koshuis was nie halaal nie.
Abeedah Davids, ’n eerstejaarstudent van Monica, vertel dat daar min halaal-eetplekke naby kampus is en slegs een halaal-eetplek in die Neelsie.
Shayga Hendricks, eerstejaarstudent van Monica, sê dat sy dit nie eens oorweeg het om ontbyt by Metanoia te gaan eet nie, omdat dit te ver en tydrowend is om soggens voor klas daarheen te stap.
Sy vertel dat sy elke dag tydens middagete al die pad van die Ingenieursfakulteit na Metanoia moes stap om halaal-etes te bekom. Sy het ook nie vooraf geweet dat Monica se eetsaal nie halaal is nie. Shayga het haar ongelukkigheid met Maajidah Samaai bespreek, aangesien Maajidah deel is van Monica se eerstejaarskomitee.
Samaai, het die inisiatief geneem om die probleem aan te spreek by ’n Monica-huisvergadering. Maajidah het eerstens die ombudsdepartement van die US gekontak en verduidelik dat dit ’n groot ongerymdheid is om elke dag ver afstande na ander koshuise af te lê as ander Monica-inwoners in hul eie eetsaal kan eet. Maajidah moes binne ’n sekere tydgleuf haar mede-Monica- en Harmonie inwoners oorreed om die kombuis halaal te maak.
Monica en Harmonie deel ’n kombuis, maar het afsonderlike eetsale. Haar plan was suksesvol.
Monica en Harmonie se eetsale gaan binnekort Moslemstudente van Monica, Harmonie en Wilgenhof kan akkommodeer. Enige studente van hul kluster wat varkvleis of nie-halaalvoedsel wil eet, kan dit steeds by Wilgenhof bestel.
Photo: Dominique Fuchs