Deur Anica Hattingh

Die Universiteit Stellenbosch (US) het op 1 Oktober ’n historiese oomblik gevier toe die 13de Rektor en Visekanselier, prof. Deresh Ramjugernath, ingehuldig is.
Die seremonie, wat in die universiteit se Endler-saal gehou is, het universiteitsleiers, regeringsamptenare, studente, personeel en alumni bymekaar gebring om die begin van ’n nuwe hoofstuk in die instelling se lang geskiedenis te vier.
In haar openingswoord het dr. Ronel Retief (die registrateur van die US) verduidelik dat prof. Ramjugernath reeds hierdie jaar in April sy pos aanvaar het, maar dat die vieringe ’n “seremoniële bevestiging van sy leierskap aan die stuur van ons instelling” is. Die rol wat hy opneem, is een van groot belang met baie verantwoordelikheid. Hierdie feit is beklemtoon deur die respek wat die gaste gedurende die dag se verrigtinge vir hom getoon het.
Tydens sy inhuldiging het prof. Ramjugernath ’n ambisieuse visie vir die universiteit bekend gemaak – ’n visie gegrond op akademiese uitnemendheid, inklusiwiteit en wêreldwye mededingendheid. Hy het benadruk dat hy “slegs ’n opsigter is, aan wie die verantwoordelikheid tydelik toevertrou is om nuwe en betekenisvolle roetes na ’n beter toekoms vir almal by ons instelling uit te bou”.
Die nuwe rektor het spesifiek klem geplaas op die vernuwing van onderrig en navorsing – veral kunsmatige intelligensie (KI), digitale leer en interdissiplinêre samewerking as onontbeerlike hulpmiddels vir die toekoms.
Met ’n duidelike doel om die US onder die top-100 beste universiteite ter wêreld te plaas, het prof. Ramjugernath die kampusgemeenskap aangemoedig om saam hardwerkend te wees. Hy het egter ook bygevoeg dat die fokus van sy ampstermyn nie is om ranglyste na te jaag nie, maar eerder om “werklike oplossings vir werklike lewensprobleme te bied wat die lewenskwaliteit in gemeenskappe op ’n wêreldwye skaal kan verbeter.” Hy beoog om hierdie doelwit te bereik deur ’n volgehoue strewe na akademiese en navorsingsuitnemendheid te bewerkstellig, wat “gelei word deur die uitdagings van ons tyd”.
Na sy inhuldiging en ’n opvoering deur die Stellenbosch Universiteitskoor, is die rektor gehuldig deur vier gesiene US-lede, naamlik prof. Sam Tshehla (visekanselier vir strategie, globale en korporatiewe sake), Sonja Roux (verteenwoordiger van die US se visekanselierskring), prof. Juanita Pienaar (lid van die US-senaat) en dr. Theo de Jager (president van die US-konvokasie).
Ná die amptelike verrigtinge het ’n kleurvolle optog koers gekies na die Coetzenburg-stadion, waar die feesvieringe in ’n gees van vreugde voortgesit is. Gaste is bederf met ’n sprankelende musiekoptrede deur Jamestown Sounds en ’n boeiende dansvertoning deur Dance for All. Die atmosfeer was warm en verwelkomend, met verversings, lekker kos en vrolike geselskap, wat die stemming vir ’n aand van kameraadskap en feesviering geskep het.
Die inhuldiging was nie net ’n seremoniële verwelkoming nie, maar ook ’n dapper verklaring van voorneme: die US streef saam met prof. Ramjugernath om “aanpasbaar en onmisbaar te wees”.