DEUR MARDENE VAN SCHALKWYK
Dit is die maand van liefde, en romanse blom in Stellenbosch. Van bergklim tot wyndrink is daar altyd iets prettig om met ’n pasmaat te doen. Daar is egter ’n paar dinge wat al amper tradisie vir geliefdes op kampus is. Die Matie het hierdie lys van tradisies saamgestel om te verseker dat elke paartjie die volle Stellenbosse feёverhaal kan uitleef.
1. Soen in Die Laan
Die Laan is ’n eikeboom-bedekte straat langsaan die Eersterivier wat so romanties is dat dit ’n bekende vryplek onder studente geword het. Tot en met 2010 het die verliefdes van Stellenbosch elke jaar bymekaar gekom vir die SR se Soen in Die Laan-fondsinsameling. Vandag word hierdie tradisie steeds deur geliefdes geëer.
2. Besoek ’n wynplaas
Erin Johnston, ’n NGDip (Volhoubare Ontwikkeling)-student, sê dat dit feitlik verpligtend vir paartjies is om saam na ’n wynplaas toe te gaan.
3. Stap Coetzenburg uit
“’n Mens moet na die Tweede Kruis toe hike,” sê Lara Breytenbach, ’n derdejaar-BA (Visuele Kommunikasieontwerp)-student. Die Tweede Kruis is ’n bekende Coetzenburg- staproete wat gewoonlik minder as drie ure duur.
4. Skemerkelkies met ’n uitsig
As stap nie jou ding is nie, kan jy nog steeds die prag van Coetzenburg waardeer. Breytenbach stel voor dat diegene wat nie in ’n hike belangstel nie, ten minste ’n skemerkelkie aan die voet van die berg geniet.
5. Roomys in Dorpstraat
Tyla Peens, ’n tweedejaar-BSc (Wiskundige Wetenskap)-student sê dat sy en haar geliefde graag roomys eet. “Die eerste ding waaraan ek dink as ek aan dates dink, is om roomys by Crème de Levain te kry.” Ander roomysplekke in die area is Swirl’n, Gelato Mania, Flame & Ash, Dinky’s, Marcel’s en De Vrije Burger.
6. Waardeer die sonsondergang
Robynne Lewis, wat onlangs haar BA (Visuele Kommunikasieontwerp)-graad voltooi het, sê: “Couples kan ná ’n lang dag saam op die tennisbane gaan sit en die lug se pragtige skakerings van goud, oranje en pienk waarneem.” Die Stellenbosse sonsondergang is altyd ’n romantiese gebeurtenis.
7. Sterrekyk op die Rooiplein
Nadat paartjies die asemrowende sonsondergang geniet het, kan hulle die naglug se prag bekyk. Peens sê: “Dis altyd lekker om op die gras by die Rooiplein te lê en sterrekyk.”
8. Stap in Jan Marais Park
Peens geniet dit om met haar kêrel in die natuurreservaat te gaan stap. Lewis het ook die park genoem, maar sy het ander planne. “Vry in Jan Marais Park en kyk dan hoe jou date ’n tyre in die speelarea flip.”
9. Buit al die dorp se specials uit
Aangesien Stellenbosch uit en uit ’n studentedorp is, is daar geen tekort aan spesiale aanbiedinge nie. Dit maak ’n aand uit saam met jou geliefde goedkoper en meer pret om te kyk hoe ver jy dié lae pryse kan uitbuit. Johnston sê: “Eet vir seker die sushi-buffet by Watami.” Peens verkies Woensdae se halfprys-pizza by Java Bistro.
So, of paartjies die rustigheid van Stellenbosch se kosbare uitsigte geniet, of eerder deur die gesellige Stellenbosse strate met ’n roomys in die hand wil stap, is daar altyd vele romantiese aktiwiteite wat kenmerkend van die Stellenbosse liefdesverhaal is. Deel jou gunsteling aktiwiteit met Die Matie op Instagram by @diematie.