Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR KARLA DE BOD

In die dae voor WhatsApp, Catwalk, Instagram DM’s en Tinder was daar slegs braaie, telefoonhokkies, danse en vertroue dat jou bewonderaar op die afgespreekte tyd gaan opdaag. Waar studenteverhoudings vandag staatmaak op sleutelborde om nuwe mense te ontmoet, te leer ken en te kommunikeer, het studente sowat 30 jaar gelede slegs staatgemaak op mekaar. 

Die jaar is 1987: Simonsberg-manskoshuis hou hulle weeklikse Vrydagoggend sjampanje-dans met Nemesia-vrouekoshuis en studente staan vroeg op om betyds te wees vir die dans voor die dag se klasse begin. Twee van die studente wat dié dans bygewoon het, is Pieter de Bod en Irene de Bod (née Bester) min wetende dat hulle daardie oggend hulle lewensmaats gaan ontmoet. 

“Ons het ontmoet toe ek in my vierde jaar was en Irene in haar tweede jaar,” vertel Pieter. “In ons tyd het die manskoshuise gewoonlik Vrydae-oggende ’n sjampanje-dans met die vrouekoshuise gehad voor klasse begin het.” Hierdie weeklikse sjampanje-danse het elke Vrydag om 06:00 begin, waartydens daar sjampanje en ontbyt bedien is met musiek in die agtergrond waarop studente volstoom gedans het. Wanneer die klok 08:00 geslaan het, het die dans geëindig voordat die dag se klasse begin het.

Volgens Pieter moes die mans altyd netjies aangetrek gewees het as hulle die sjampanje-danse wou bywoon, maar dat sy planne op dié spesifieke oggend dit nie so mooi toegelaat het nie. “Die oggend van die sjampanje-dans was ek en my vriende bietjie laat gewees aangesien ons die vorige aand met whiskey en lemonade gedeurnag het,”  het Pieter gesê. 

As gevolg van die deurnag was Pieter se uitrusting nie heeltemal gepas vir die oggend se geleentheid nie, maar dit was ’n uitrusting wat Irene nooit sal vergeet nie. “Hy het daar opgedaag met ’n swart oefenbroekie, ’n T-hemp met ’n das om die nek en tekkies sonder sokkies, maar flip hy het mooi gelyk!” het Irene vertel. “Sy hare was gesny soos die modehaarstyl van daai tyd, die ‘MacGyver’, met ’n ligte mullet in die nek.”

Pieter het vertel dat hy dadelik vir Irene gesien het toe hy by die eetsaal ingestap het soos sy besig was om met ’n tweedejaar te dans. “Toe die mooi meisie gaan sit het toe sê ek vir haar dat ek volgende met haar gaan dans,” het Pieter vertel. “En so het ek heeloggend met haar gedans, plaat ná plaat.”

Vandag se studente het nie die probleem van name vergeet nie, aangesien die naam met ’n nommer op die foon gegee is of gesien kan word op ’n Instagram-profiel, maar dertig jaar gelede was dit ’n ander storie. “Vir ons eerste date het ek gegaan om vir Irene op te tel by haar koshuis, Nemesia, maar toe ek daar kom, het ek vinnig besef dat ek nie haar naam kan onthou nie, net dat dit een of ander vrouekoshuis se naam was,” het Pieter vertel. 

In daardie oomblik kon Pieter nie op sy foon se kontaklys of Instagram-soekgeskiedenis staatmaak nie, en moes sodoende die koshuis se lys van name gebruik het om meisie-vir-meisie af te roep om uiteindelik by Irene uit te kon kom. 


PLAAT NÁ PLAAT Pieter de Bod en Irene de Bod dans plaat ná plaat by Nemesia-vrouekoshuis se huisdans in 1988. Foto: Verskaf vanuit die paartjie se ou fotoalbum.

“Ek het na die voordeur toe gegaan en by die lys afgegaan en elke meisie geroep wat ’n vrouekoshuis se naam het. Ek het eerste ’n Erika afgeroep en nadat sy gekom het en ek besef het dat dit nie die meisie is wat ek soek nie, het ek agter die pilaar weggekruip en gemaak asof dit nie ek is wat die meisies afroep nie,” het Pieter vertel. “Nadat ek ’n Nerina afgeroep het en weer agter die pilaar weggekruip het, het ek uiteindelik ’n Irene afgeroep en toe kom die mooi meisie af met ’n rooi sweetpakbroek en ’n geel trui en ek vra toe of sy met my ietsie sal gaan drink by Lanzerac.”

Met selfone wat eers teen 1994 in Suid-Afrika beskikbaar geword het, kon studente in vroeër jare slegs telefoonhokkies gebruik om oor ’n afstand te gesels en het hulle meestal in persoon afgespreek wanneer hulle mekaar weer gaan sien en vertrou dat die ander persoon sou opdaag. 

Volgens Irene het dié kommunikatiewe belemmering veroorsaak dat studente mekaar meer kon sien en eintlik beter kon kommunikeer. Sy het gesê: “Ons het langer by mekaar gekuier en ons het mekaar in die oë gekyk wanneer ons gesels het, so ek dink verhoudings daai tyd was meer opreg en intens.” 

Pieter het vertel dat alhoewel die lewe daardie tyd dalk makliker sou wees met selfone, dit nie naastenby so diep sou wees nie en dat hy sodoende baie geleer het. “Ons het geleer hoe belangrik dit is om te kommunikeer in persoon; as jy nie ’n persoon in die oë kan kyk nie, dan kan jy nie die sentiment of die deernis of die gevoel sien nie, want jou oë is tog jou hart na buitentoe,” het Pieter gesê. “Ek dink die feit dat ons gedwing was om te kommunikeer in persoon het gehelp dat ons sterker verhoudings kon bou.”

Met betrekking tot raad vir die studente van vandag, het Pieter gesê dat die verhoudings wat ’n mens tydens jou studentelewe bou, die verhoudings is wat jy vir die res van jou lewe gaan hê. “Dis belangrik om jou kêrel of meisie te betrek in jou vriendekring en dat hulle oor die weg kom met die mense wat reeds deel is van jou lewe,” het Pieter gesê. “Die hegste vriende wat ek vandag het, is my vriende wat ek tydens my studentelewe ontmoet het en [die] meeste van hulle is vandag getroud met die meisies wat hulle daai tyd na die braaie toe gebring het.”

Vir baie studente sal Stellenbosch altyd bekend staan as die dorp wat gevul is met studentepret en waar jy vriendskappe en verhoudings bou met mense van verskillende agtergronde, wat elkeen bydra tot die genot van student wees. “As jy jou [lewensmaat] op Universiteit Stellenbosch ontmoet het, het jy nie net pret in ’n plek gevind nie, maar ook in ’n persoon, en dit is iets wat jy nie moet laat gaan nie. Moet nooit die pret verloor nie,” het Irene gesê. 

Met hulle 32ste huweliksherdenking wat om die draai is, geniet dié De Bod-paartjie dit om dikwels terug te dink aan hulle studentedae waartydens hulle storie begin het. Elke storie en herinnering wat te doen het met hulle geliefde akkerboomdorpie bring ’n glimlag op albei se gesigte soos dit hulle terugneem na daardie oggend in Simonsberg-manskoshuis se eetsaal in 1987. 

“Ek voel asof ek nog steeds ’n student is en ek is nog steeds so lief vir Irene,” het Pieter gesê. “Ek sal enige dag weer die hele landdrostuin se blomme gaan pluk en vir haar gaan serenade onder haar koshuiskamer se venster.”


Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial