DEUR ANÉ HAVENGA
Die afgelope reses het gesien hoe Maties se hokkiespanne met van die land se top universiteitshokkiespanne in die jaarlikse Universiteitesport Suid-Afrika (USSA)-toernooi afgereken het. Maties se vroue- en manseerstehokkiespanne het in die week van 23 tot 27 September Johannesburg se hoë lugdruk gaan aandurf en die vrouespan het met silwer weggeloop. Die toernooi is hierdie jaar deur die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) aangebied.
Nadat die mansspan op die vierde dag van die toernooi in die semi-finaal teen Varsity College 2 ‒ 1 verloor het, het hulle uitgespeel vir die 3de en 4de plek. Daar moes hulle ongelukkig die knie buig teen Wits en het die wedstryd met ’n strawwe 0 ‒ 4 verloor. Brendan du Toit, ’n vierdejaar-BIng (Bedryfsingenieurswese)-student en die span se doelwagter, het egter gesê dat die span heel positief voel oor die hele week en dit veral net ’n verligting was om weer só ’n toernooi te speel ná die grendelstaat en pandemie die laaste twee jaar amok gesaai het.
Du Toit het gesê: “Die eerste paar dae in Johannesburg was maar rof op die longe. Op die ou einde was dit nie die resultaat wat ons wou gehad het nie. Ons het baie goeie group stages games gehad. Nadat ons Tuks [Universiteit van Pretoria] [3 – 2] gewen het, het ons gevoel asof ons die toernooi gewen het. Ons kon net nie dieselfde vlak bereik in die semi’s en bronsmedalje wedstryde nie.”
Spelers soos Du Toit deel volgende jaar weer sy ervaring met Maties, maar dis veral die hoeveelheid hoë standaard spelers wat Maties oplewer en die jong spelers wat hom opgewonde maak. Dit was 14 uit die 18 mansspelers se eerste USSA-toernooi en dus is daar nog baie om voor uit te sien in die jare wat kom.
Die vrouespan het in die semi-finaal 5 ‒ 0 met die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) afgereken en het al die pad tot die finaal teen Tuks gevorder waar hulle ná finaletyd 2 ‒ 2 gelykop gespeel het; daarna het hulle ongelukkig 4 ‒ 2 in die strafdoelstryd (penalty shootout) verloor.
Ongeziwe Mali, ’n eerstejaarstudent wat BSc (Fisika) studeer en die span se onderkaptein is, het gesê dat die span se positiewe houding vir haar uitgestaan het tydens hierdie gesogte toernooi. Van die fisio tot die spanvergadering het alles seepglad verloop, wat bygedra het tot hulle sukses. Die gehalte van die span se spel was van die boonste rakke van die eerste wedstryd regdeur tot die finaal. Die span se slagspreuk is “om elke oomblik net te geniet” en daaruit het die doele gestroom wat bygedra het tot elke wen.
“Die finaal was vreeslik spanningsvol veral omdat Maties elke keer ’n doel aangeteken het net vir Tuks om weer dit gelyk te maak. Hierdie is my eerste jaar in die Maties-span en ek sien uit vir nog vele jare saam met die span! Ek glo ons bring binnekort die beker huistoe,” het Mali gesê.
Brady Wiseman, die vrouespan se kaptein wat tans HonsBSc (Sportwetenskap) studeer, hang aan die einde van die jaar haar stewels op, maar sluit haar jare vir Maties op ’n hoogtepunt af. Alhoewel die COVID-19-regulasies streng was, kon dit nie die span se hegte band of energie blus nie. Vir Wiseman was dit ’n ongelooflike voorreg om die kaptein van die span te wees en die maroen hemp oor haar kop te trek. Daardeur verteenwoordig sy die huidige span, die universiteit en alle spelers wat al gespeel het of nog gaan. Dit is vir haar moeilik om al die emosie in die finaal te beskryf veral omdat die span 2 ‒ 1 voor was voordat Tuks reg op die einde die wedstryd gelyk gemaak het.
Haar woorde aan die einde van die toernooi vir haar span was duidelik: “Ons kan trots wees op wat ons vermag het en ons kan ons koppe hoog hou. Die talent in hierdie span is ongelooflik en ons is soveel meer as net ’n span. Hou aan om altyd hard te werk!”