MEERTALIGE TOEKOMS – Borde soos dié op kampus beeld die meertalige toekoms van die US aan. Foto: Vicky Hendrikz.

Hersiende Taalbeleid Skep Moontlikheid vir ’n Meertalige Toekoms

BY DYLAN LEE

Die Universiteit Stellenbosch (US) se hersiende taalbeleid is in die laaste fases van die skep van ’n finale konsep-weergawe wat vyf jaar ná die implementering daarvan in 2017 in werking sal tree in 2022, soos geïllustreer deur die tydlyn van die hersiende taalbeleid op die webtuiste. 

Ná die openbare kommentaar op die tweede konsep-weergawe van die hersiening is die tweede beleid in September 2021 voor die Raad gebring vir verdere verfyning volgens die webtuiste se plasing Senaat en Raad oorweeg tweede konsep-weergawe en tweede​ reaksieverslag in September​​​ 2021​. Tot op hede het die beleid sedert die eerste konsep-weergawe al verander, maar hierdie veranderinge word verwelkom aangesien dit meertaligheid en inklusiwiteit bevorder volgens die Verslag oor die openbaredeelnamereaksie op die tweede konsep-weergawe van die hersiene beleid.

Die US se taalbeleid is vanjaar onder ’n nasionale vergrootglas geplaas nadat die universiteit se 2016 Taalbeleid (wat in 2017 in werking getree het), soos voorgeskryf deur dié beleid, ná vyf jaar hersien moes word. Dít is nadat die US baie kritiek moes aanhoor oor hoe hulle taal op kampus hanteer, soos uitgespreek deur sommige studente, mediapublikasies en veral belangegroepe soos die DAK Netwerk.

Verlede jaar het die proses om hersiening in werking getree waarna ’n taakspan bymekaar geroep is en ’n eerste weergawe-konsep van die hersiening geskep is. Daarna is dié konsep beskikbaar gestel vir openbare kommentaar en gedurende hierdie fase het studente die geleentheid gehad om ook hulle menings te deel. Die tweede konsep-weergawe is toe saamgestel, waarna openbare kommentaar weer beskikbaar gestel is, wat ook verkry kan word deur die tydlyn wat op die webtuiste saamgestel is. 

Die koers van die beleid volgens die universiteit se webblad is tans soos volg: die tweede konsep is aangepas en wag vir goedkeuring vanaf die Institusionele Forum (IF), die Senaat en die Raad. Die taakspan poog om die finale beleid teen einde 2021 te finaliseer sodat dit in 2022 geïmplementeer kan word.

Die IF, die Senaat en die Raad is, volgens die US se webblad, die drie hoof statutêre liggame van die universiteit. Die IF, waarvan BJ Bergsteedt die voorsitter is, is daarvan ten doel om die Raad te adviseer aangaande aangeleenthede rakende die universiteit, soos onder andere die implementering van die Wet en die nasionale beleid op hoër onderwys, en ander gedragskodes. 

Die Senaat is weer verantwoordelik om die Raad te help met akademiese en navorsingswerksaamhede en enige ander verpligtinge wat deur die Raad aan die Senaat gedelegeer of toegewys word. Dit word gelei deur die rektor, prof Wim de Villiers, en saamgestel deur verteenwoordigers van verskeie ander liggame soos die SR, die Konvokasie en die Stellenbosch Munisipaliteit. 

Albei dié liggame val dus onder die US se Raad wat, volgens die US se webblad, verantwoordelik is vir die beheer van die universiteit “behoudens die Wet op Hoër Onderwys en die institusionele statuut”. Die raad is ook onder leiding van onder andere De Villiers en die uitvoerende bestuurshoof, prof Stan du Plessis. Die US se webblad dui ook aan dat die verdere verantwoordelikhede van hierdie liggame in die US se Statuut uitgebrei word. 

Die kern van die beleid, soos vervat in die tweede konsep-weergawe, beklemtoon dat hierdie beleid “beoog om billike toegang tot die US vir alle studente en personeellede uit te brei, meertaligheid én waardering vir meertaligheid te bevorder”. 

Volgens die tweede konsep-weergawe gee dit ook baie uiting oor die implementering en toepassing van hierdie beleid, maar daar word deurlopend na die bevordering van meertaligheid in ’n diverse groep verwys en hoe die aktiewe toepassing daarvan juis as ’n bate vir die instansie kan ontwikkel. 

’n Bron van kommer onder sekere studente is rondom die kwessie van Afrikaans in die US. Heinrich van Nieuwenhuyzen, ’n tweedejaar-BRek-student, deel: “Ek is bekommerd vir die sistematiese verval van Afrikaans op kampus by wyse van gerigte van verengelsing op kampus.”

Die teendeel is ook waar ander studente soos Gerrard Damons, ’n derdejaar-LLB-student, sê: “Ek dink dit [die taalbeleid] is wonderlik en nodig omdat dit Afrikatale, aangesien ons wel ’n wye verskeidenheid tale in hierdie land het, bevorder, veral in akademiese instellings soos hierdie. Dit sal werksgeleenthede vir mense bevorder en ons as land sal selfs beter laat kommunikeer in ons moedertale, in plaas van die eksklusiewe gebruik Engels.” 

Die “[beweerde] arbitrêre en onregmatige ‘Slegs Engels-diktaat in Matie-koshuise”, soos Frederik van Dyk,  sekretaris van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch uitvoerende komitee en aktivis vir taal, dit in ’n LitNet-meningstuk van 4 Augustus stel is ’n voorbeeld van die “sistematiese verval van Afrikaans op kampus” wat Van Nieuwenhuyzen genoem het. 

In ’n onderhoud met Die Matie merk Van Dyk op dat die US “nie ’n eiland is wat onafhanklik kan staan van die gemeenskap en provinsie waarin dit is nie”.

“[Die US] is in die Wes-Kaap in Stellenbosch geleë waar baie mense, feitlik die meerderheid van die provinsie, Afrikaanssprekend is en dit is daarom ten beste geposisioneer om ’n  betekenisvolle bydrae te maak tot ’n lewenskragtige en volhoubare akademiese Afrikaans,” meen Van Dyk. 

Hy voel dat die omstandighede wat in die taalbeleid vervat word na klousule 7 (wat hoofsaaklik handel oor die beleidsbepalings, beplanning en kommunikasie) ooreenstemmend is met die 2016 beleid wat hy meen tot die afwatering van Afrikaans lei en wat ten einde die stelselmatige aftakeling van Afrikaans beteken. Hy erken dat hy verras is deur die tweede konsep-weergawe en die verbetering daarvan op die eerste weergawe, veral weens die positiewe erkenning van Afrikaans. 

Die tweede konsep-weergawe van die US se hersiende taalbeleid skep ’n beleid wat die toekoms van die instelling as ’n meertalige instansie wil vestig en daarin wil poog om inklusiwiteit daardeur te bevorder. 

Volgens Netwerk24 het dr Leslie van Rooi (senior direkteur van sosiale impak en transformasie) tydens ’n optog op 9 April gesê: “Daar is ’n plek vir Afrikaans in skole en hoër onderwys, maar Afrikaans moet binne verhouding met ander tale staan.”

Die tweede konsep-weergawe van die taalbeleid beoog gevolglik om “billike toegang tot die US vir alle studente en personeellede uit te brei, meertaligheid én waardering vir meertaligheid te bevorder, en pedagogies verantwoordbare leer en onderrig te fasiliteer”. Volgens dieselfde konsep-weergawe, “verbind [die US hulleself] tot meertaligheid deur die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa, te gebruik”.

Martin Viljoen, die US se mediabestuurder, het geen bykomende kommentaar gelewer nie, maar Die Matie direk na die mediaverklaring van 15 September 2021 verwys.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial