Latest Post

The balancing act: Being a student athlete Rest and recover: How to exercise safely Know the ins and outs of Varsity Cup Who brings the vibes to the Bosch?
Deur Emma Olivier
Pieter Krog se debuutbundel Sonneblom na Blou verskyn 20 Februarie. Foto verskaf.

In sy debuutbundel, Sonneblom na Blou, is digkuns Pieter Krog se manier om van die lewe, die liefde, verandering en identiteit sin te maak. Die Matie het met hierdie jong digter van Kroonstad gesels oor die bundel en die storie daaragter.

Krog vertel dat hy al in sy kinderdae reeds homself belowe het dat hy eendag sal skryf. “Ek [wou wys] dat, as ’n disleksiese mens, ek ’n digbundel bymekaar [kan] stel en […] ek wou daai belofte vervul aan daardie klein seuntjie,” sê hy.

Die idee vir die bundel het begin vorm ná ’n roadtrip saam met sy vriend, Julian Robinson, in Desember 2023. Die avonture van hierdie reis was ’n kreatiewe katalisator vir Krog gedurende “een van die crazyste tye van [sy] lewe”. Toe hy dus in 2024 aan die Universiteit Stellenbosch BA (Menslike Hulpbronbestuur) begin studeer het, was digkuns ’n instrument waarmee hy hierdie nuwe lewenshoofstuk en alles voorheen kon verwerk. Uit hierdie ervarings het Sonneblom na Blou voortgespruit. 

Krog beskryf dit as ’n “coming-of-age-storie” wat sy persoonlike stryde, asook belangrike politieke kwessies, veral van Afrikanerskap, bevraagteken en uitdaag – maar wat ook verken waarom ’n mens aanhou lewe en aanhou liefhê. “In die einde is daar nie ’n einde nie. Dis net liefde wat oorbly,” sê Krog.

Vir byna twee jaar het Krog onder mentorskap van Bibi Slippers aan die bundel geskryf. Hy het verkies dat sy tannie, die bekroonde Antjie Krog, hom nie deur die lang proses mentor nie. Hy verduidelik: “Om jou eie familie te vra om jou te [lei] – jy kan net dink […]! ’n Mens is biased [en] ’n mens is nie so krities nie […]; dus het ek nie vir my pa of my tannie gevra nie, alhoewel hulle beide digters is.” 

Krog vertel hoe hy via Instagram na Slippers uitgereik het en dat hy by haar geleer het “hoe om te skryf, maar in die mate van: ‘You owe it to yourself to be professional […]. ’n Mens het die oemf en die idee en ’n mens kan even die woorde hê, maar hoe om dit bymekaar te sit – waar begin jy? Waar begin jy uithaal?”

Krog het ook die talente van verskeie kunstenaars (onder andere Robinson as stemakteur en mondfluitjiespeler, Eben Labuschagne op die kitaar saam met Krog se medevervaardiger Kobus Erasmus, violis Mikael von Eschwege, en Kristen Fichardt, Jacques Theron, Frances van Rooyen, Ancois Bodenstein en Heinrich Wentzel as stemakteurs) ingespan om die bundel op te neem en in ’n oudioboek te omskep.

Sonneblom na Blou stel ’n vars, opwindende nuwe digterstem in ’n innoverende gemengde medium ten toon. Die digbundel sal 20 Februarie in oudioboekvorm op Spotify en ander stroomplatforms verskyn.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.