Latest Post

‘Hunger Games’: hoe lyk die toekoms vir skrywers en joernaliste? Eendrag car thefts prompt review of vehicle safety on SU campus Student Court unanimously overturns disqualification of Ben Anderson from SRC A mile of history and spirit: Dagbreek Straatmyl

Deur Nina Guy

’n Interessante gesprek tussen Ilse Salzwedel, Jolyn Phillips, Karin Schimke, Leonie Joubert en Frederik de Backer het op 13 Oktober by die Toyota Woordfees plaasgevind, waar die vraag: “Hoe maak ’n mens ’n bestaan uit skryfwerk?” bespreek is.  In die gesprek is daar gepraat oor hoe skrywers hul skryfwerk gebruik om ’n bestaan te maak en wat hulle op die oomblik doen om ’n inkomste te verdien.

Die paneel, Ilse Salzwedel, Jolyn Phillips, Karin Schimke, Leonie Joubert en Frederik de Backer, bespreek die uitdagings wat skrywers vandag te kampe het. Foto verkry.

Ilse Salzwedel vertel eerlik en humoristies: “Ons is almal hier literêre hoere.” Sy meen dat skrywers en joernaliste regtig enigiets met woorde sal doen om kop bo water te hou – van klasgee tot vryskutjoernalistiek – die “Hunger Games” vir skrywers is ’n realiteit. Jolyn Phillips het ingespring en vertel dat sy steeds nie werk kry nie, al het sy ’n doktersgraad agter haar naam. Dit dui aan hoe sleg die ekonomiese toestand is en dat dit ‘n groot impak op talle skrywers het.

Opkomende kunsmatige intelligensie wat nou die posisie van skrywers bedreig, raak ’n probleem in verskeie industrieë en vervang elke dag honderde skrywers. In ’n tyd waar onsekerheid heers, en die grens tussen waarheid en leuens al hoe meer kwyn, is die integriteit van ’n joernalis belangriker as ooit. Toe Salzwedel gevra is wat sy vir jong, opkomende joernaliste sou sê, het haar oë opgehelder: “Jy moet doen wat jou hart vir jou sê om te doen. Daar sal altyd vir jou werk wees, mits jy integriteit het en mits jy bereid is om baie hard te werk.” 

Salzwedel beklemtoon dat geen joernalis die minimum kan doen en steeds suksesvol kan wees nie. Sy noem ook dat Theuns Jordaan eens gesê het: “Die enigste ding wat bo begin is ’n gat.” Jy gaan jouself moet bewys en werklik die werk insit om die leer van sukses te klim.

Die paneel het saamgestem dat skrywers hulself voortdurend moet aanpas om in die literêre wêreld te oorleef. Salzwendel vertel hoe sy eens betaal was met ’n bordjie kerrie en ’n mismatched dankie-kaartjie. Dit is vandag die werklikheid vir skrywers: meer werk vir minder betaling.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *