Latest Post

A mile of history and spirit: Dagbreek Straatmyl ’n Myl van geskiedenis en gees: Dagbreek-straatmyl In the shadow of apartheid: ‘Boesman en Lena’ on  STIAS extension: pioneering a net zero future
Deur Nina Guy

Die 15de jaarlikse Dagbreek-straatmyl, wat deel vorm van die Toyota Woordfees, het Woensdag, 15 Oktober, Stellenbosch se Victoriastraat in ’n atletiekbaan verander. Die byeenkoms bring elke jaar atlete van alle ouderdomme saam, van jong kinders tot ervare atlete – en vanjaar was geen uitsondering nie.

’n Hoogtepunt van die Dagbreek-straatmyl was die inhuldiging van twee atlete in die Suid-Afrikaanse Heldesaal. Die seremonie het die betekenis van die byeenkoms beklemtoon en die prestasies van die atlete vereer. Die skare het stil gestaan om hierdie oomblik te waardeer. Die middelafstandlegendes is De Villiers Lamprecht en Johan Fourie. Lamprecht is die eerste Suid-Afrikaanse atleet wat ’n droommyl kaalvoet by Coetzenburg voltooi het. Fourie spog met 53 droommyle en het ’n blywende merk op die geskiedenis van sport gelaat.

Die byeenkoms bied ’n wye verskeidenheid kategorieë aan wat daarop gemik is om deelnemers van alle ouderdomme en belangstellings in te sluit. Van seuns- en dogtersafdelings (ouderdomme 10 en 13) tot skaatsplankry en die bekende Pretmyl. In die mansafdeling van die Pretmyl het Lucas Coetzee met ’n indrukwekkende tyd van 4 minute en 52,92 sekondes die oorwinning behaal, terwyl Jade Miller in die damesafdeling met ’n tyd van 5 minute en 16,74 sekondes eerste geëindig het. William Louw vertel: “Dis ’n Dagbreek-tradisie wat al vir ’n baie lang tydjie aangaan – dis nogal ’n groot gebeurtenis. Ons is bly dat Woordfees ook deel vorm daarvan.” 

Wenner van die Pretmyl-mansafdeling, Lucas Coetzee, hardloop met triomf oor die wenstreep tydens die Dagbreek-straatmyl.
Foto deur Nina Guy.

Die atmosfeer was lewendig: die Hoërskool Stellenbosch se cheerleaders het gees gebring. Die Pretmyl-mansafdeling het die skare laat opvlam van opwinding, met ’n gejuig wat deur Victoriastraat weerklink het, terwyl elke deelnemer die eindstreep met energie en vasberadenheid bereik het. Die straatmyl het geëindig met deelnemers wat by Victoriastraat afhardloop, verlig en gegroet met ’n blikkie Red Bull. Selfs die skaatsplank-afdeling het groot belangstelling ontlok en die deelnemers het met styl en spoed by die straat afgestorm, wat ’n moderne draai aan die tradisionele straatmyl gegee het.

Met ’n mengsel van geskiedenis en gees, het die Dagbreek-straatmyl 2025 bewys dat dit nie net ’n wedloop is nie, maar ’n viering van Stellenbosch-kultuur en -tradisie.

Die Dagbreek-straatmyl se logo trots langs die bekende Bloublakkie in Victoriastraat. Foto deur Nina Guy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *