Op 12 April het Afrikalt, die Afrikaanse alternatiewe musiekkollektief, ’n Aandklas oorname georkestreer van magiese orde.12 kunstenaars/bands het die verhoog betree vir nege ure van kunstige. Die Matie het uitgereik na Damian Strydom, seerower in Die Doodsvonnis, cowboy in Die FakboiZ en een van die hoofbestuurders van Afrikalt, om ’n bietjie meer uit te vind oor die missie en oorsprong van Afrikalt.

Wat is Afrikalt en hoe het dit ontstaan?
Afrikalt is ’n alternatiewe Afrikaanse beweging wat vir kunstenaars van alle mediums ’n geleentheid wil skep om hulle kuns voorendag te lê. Afrikalt het ontstaan met kunstenaars wat bymekaar gekom het by ’n fees, Zeegunsts, en gesê het: Kom ons doen iets grooter. Kom ons doen iets vir die gemeenskap. Kom ons doen iets vir die alternatiewe Afrikaanse gemeenskap.
Wat is die visie van Afrikalt, die droom so te sê?
Die droom is om ’n veilige tuiste te kan skep vir kunstenaars waar hulle hulle kuns kan voorlê, waar hulle hulself kan wees en waar hulle kan betaal word vir hulle kuns en ’n lewe daaruit kan maak […] – dat almal ’n kans kry en ’n regverdige geleentheid kry om hulle kuns voor te lê. Om die geleentheid te skep en ’n beacon van hoop te wees.
Enige Afrikaanse treffers wat tans in jou kop rondsweef?
Jis, dis ’n breë vraag, maar nou tans, die song wat my die jaar gevang het, is Hendriek Bleik se “Zombie Kwekery”. Sien baie uit om hom by Kaltfees Johannesburg te sien. “Die Dood is Blou” van L!SA is revolutionary. Ek het my hele lewe lank gewag om dit te hoor, met die Afrikaanse emo punk rock vibe en ’n female wat dit doen met volle confidence. En dan natuurlik Dierbaar, die hit-machine supersterre. The Karries sal altyd ’n spesiale plek hê in my hart, baie, baie cool band. Karel Bester en die Kraaines se BoereBal – the list goes on… dis ’n baie moeilike ene. Kalt Bands is my favorite op hierdie oomblik want ek is ingefokus op dit, ek is ingezoom op dit, en dis ’n vooreg.

Afrikalt maak bewegings oral oor die land, met hulle volgende groot byeenkoms op die horison – Kaltfees (JHB) by die Tweefontein Melkery op 26ste April. As Gauteng ’n bietjie ver is, hoef jy nie te vrees nie, want ’n handjievol Afrikalt-kunstenaars gaan ’n draai kom maak by Bohemia in die volgende paar weke. As jy ’n aanhanger van alternatiewe Afrikaans is, dan is dit die plek om dop te hou. Om meer uit te vind oor die verskeie Afrikalt-kunstenaars en waar hulle volgende op pad is, volg gerus @afrikaltmusiek op Instagram en raak deel van die beweging.
Deur Kris Bence