Latest Post

Cape Derby Chaos: Maties snatch victory in dying seconds Luck o’ the Maties Monday Miles: just for fun Prof Stan du Plessis: ’n Nalatenskap van nuuskierigheid

Vir meeste mense is daar niks erger as om terug te dink aan ’n wiskundetoets nie. Daar is maar net iets aan meetkunde en die stres daarvan wat meeste mense nooit weer wil herhaal nie. So wat gemaak as jy ’n volwasse man is wat na jare uitvind jy moet jou matriekvraestel herhaal? Hierdie vrees word ’n werkliheid in die nuwe rolprent, Som Van Twee. Simoné Pretorius (’n oud-Matie) maak haar vollengtefilm regisseursdebuut met hierdie familierolprent. Dit is ’n storie vir oud en jonk en beslis iets wat gesinne en vriende saam moet kyk. Die fliek sal jou beslis aan die praat kry, veral oor die kardinale rol wat verhoudinge in ’n mens se lewe speel.

Foto: Verkry

Dit is juis die fokus op verhoudings wat die fliek so ’n groot sukses maak. Die vergrootglas word geplaas op die pa-en-seun-verhoudings, die verhoudings tussen familielede na hulle ’n lid aan die dood moes afstaan, liefdesverhoudinge en dan ook vriendskappe.

Die sukses van die fliek is dat alles so realisties voorkom, niks voel geforseerd nie. Dis asof die fliek jou intrek in die gesin se daaglikse probleme, waarmee enige mens kan vereenselwig, maar dit word op so ’n manier vertel dat jy bloot net agteroor kan sit en die fliek (asook die Likkewaanmusiekfees…) geniet.

Adriaan Havenga, ’n oud-Matie, vertolk die hoofrol in hierdie fliek. Hy het in 2018 Pretorius se Art of Acting-werkswinkel bygewoon en jare later het sy hom genader om vir die fliek te oudisie, waarna hy die hoofrol losgeslaan het. Havenga vertel: “Daar was soveel lekker oomblikke op die stel. Die span was ongelooflik. Almal het so goed oor die weg gekom. Die een dag na ons ’n toneel by ’n gastehuis geskiet het, het ’n klomp van ons cast en crew met ons klere in die gastehuis se swembad gespring. Soos met baie films deesdae, het ons nie vreeslik baie tyd gehad om die film te skiet nie, maar ten spyte daarvan was Pretorius so geduldig en die hele span was wonderlik. Die kameraderie was regtig iets wat die ervaring vir my onvergeetlik gemaak het.”

Dis min deesdae dat Afrikaanse flieks dit tot op die grootskerm maak. Daarom besef Havenga wat ’n groot voorreg dit is dat die fliek op 21 Maart regoor die land op die grootskerms ’n draai gaan maak. “Daar is maar net iets daaraan om saam met mense te lag en te huil as jy ’n fliek op die grootskerm kyk. Daar is ’n tipe elektrisiteit wat jy nie alleen op jou bank kry nie,” vertel Havenga. Dit is juis daarom dat Suid-Afrikaners hierdie nuwe fliek moet ondersteun.

Havenga gee tans skool in China, maar beplan om nie vir altyd daar te bly nie. As hy die huis effens te veel mis, maak hy seker hy skakel in op RSG. Hy maak ook seker dat hy sy skryfwerk saamvat – daar is klomp opwindende dinge wat op hom wag.

Vir Havenga staan daar een ding uit van hierdie fliek: “Verhoudings is moeilik, maar die moeite werd.”

Deur Ané Havenga

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.