Met die vertrek van professor Stan du Plessis na STADIO, verloor die Universiteit Stellenbosch (US) nie net ’n gerekende akademikus en leier nie, maar ook ’n intellektuele vuurvlieg wat vir dekades die universiteit se landskap verryk het. Sy loopbaan by US, wat oor 25 jaar strek, is gekenmerk deur ’n diepe nuuskierigheid, ’n passie vir ekonomie, en ’n onwrikbare verbintenis tot die uitbreiding van toegang tot hoër onderwys in Suid-Afrika.
Prof Du Plessis het sy loopbaan by Matieland in 1999 as senior lektor in die Departement van Ekonomie begin, en sy navorsing het hom vinnig gevestig as ’n prominente denker in monetêre beleid en die sakesiklus. Hy het egter nooit in net een dissipline vasgesteek nie — sy akademiese belangstelling het uitgebrei na filosofie, regte en selfs die verhouding tussen ekonomie en teologie. Hy het vinnig gevorder tot mede-professor in 2003, en volprofessor in 2006. In 2011 is hy aangewys as die vise-dekaan in die Ekonomiese en Bestuurswetenskap fakulteit. Sy visie was om ’n sterker navorsingskultuur te bou, iets wat hom later as dekaan (vanaf 2014), en toe as bedryfshoof (vanaf 2017), nog dieper sou besig hou.

In sy tyd in die universiteitsbestuur het hy ’n diep begrip van die kompleksiteit van ’n moderne universiteit ontwikkel. “Ons het vyf kampusse en meer as 450 geboue,” verduidelik hy. “Iewers moet dit alles bymekaar gehou word, en ek was gelukkig om by van die beste mentors te leer.”
Hy glo dat universiteite ruimtes van nuuskierigheid moet wees — plekke waar dosente en studente vry is om vrae te vra en idees te ondersoek. “Hoekom gaan mense universiteit toe?” vra hy. “Omdat hulle nuuskierig is. Universiteite gee ons die ruimte om nuuskierig te wees, en hulle doen dit al vir ’n duisend jaar lank.” Sy eie akademiese reis het hom van Stellenbosch na Cambridge geneem, waar hy sy meestersgraad voltooi het. Hy waarsku dat universiteite geneig kan wees om betrokke te raak in globale politieke en morele gesprekke, maar dat dit dikwels die akademiese integriteit van die instelling ondermyn. “As jy nie ruimte laat vir meningsverskil nie, ontneem jy studente van die kans om werklik te leer,” sê hy. “Baie mense sê hulle is kritiese denkers, maar ek vra altyd: Wanneer laas het jy jou opinie verander oor iets belangrik sodra jy besef het dat jy verkeerd was?” Karl Popper se boek, The Open Society and Its Enemies, waar Popper se filosofie van falsifikasie beklemtoon dat ware kennis groei wanneer ons bereid is om ons oortuigings te bevraagteken, het ’n groot invloed op hom gehad.
Die universiteit moet homself beperk in sy rol om sy kernmissie te beskerm — om akademiese vryheid en kritiese denke te bevorder. “Ons is nie ’n NGO, ’n dinkskrumsentrum of ’n politieke party nie. Ons is ’n universiteit, en ons moet ’n ruimte handhaaf waar akademici en studente onafhanklik kan dink.”
Prof Du Plessis se besluit om na STADIO te gaan, spruit uit sy sterk oortuiging dat toegang tot hoër onderwys ’n bepalende faktor in samelewingsontwikkeling is. “Die impak van universiteitsopleiding is enorm,” sê hy. “Wanneer ’n eerstegenerasie-student universiteit toe gaan, verander dit nie net daardie individu se lewe nie, maar ook die hele familie se toekoms. Stellenbosch is ’n wonderlike universiteit, maar dit is beperk tot 6 000 eerstejaarstudente per jaar,” verduidelik hy. Ons het méér opvoedings-geleenthede nodig, en STADIO bied ’n model wat hoëgehalte, skaalbare hoër onderwys vir ’n groter poel Suid-Afrikaners moontlik maak.”
Hy beklemtoon dat Suid-Afrika se onderwysstelsel struktuurprobleme het — die piramide is die verkeerde kant om, omdat die land te min plekke het vir nagraadse opleiding en tegniese vaardigheidsontwikkeling. “Ons het nie noodwendig nóg navorsingsuniversiteite nodig nie, maar ons het wel instellings nodig wat mense vir die arbeidsmark kan voorberei.”
As hy Minister van Basiese Onderwys vir ’n dag moes wees, sou hy twee dinge doen. Eerstens, seker maak dat die lede van die Departement van Onderwys en onderwysers nie aan dieselfde vakbonde behoort, en dus aan dieselfde kant van die gesprek is nie. Tweedens, om drasties in te gryp by onderpresterende skole. “Ons kan nie dobbel met kinders se toekoms nie,” meen hy. Byna 40% van Suid-Afrika se laerskole word as ’n mislukking beskou: Die kriteria vir ’n skool om as ’n mislukking beskou te word, hou in dat nie ’n enkele graad 4-leerling in hierdie skole met begrip kan lees nie. “Ons kan nie net hoop dinge verbeter nie. Ons kan nie ’n nuwe generasie ongeletterd in die wêreld instuur nie,” sê hy. Verder wens hy dat politieke besluite, veral beleidsbesluite, gemaak kon word gebaseer op “wat werk”, eerder as op grond van ideologie.
Terwyl prof Du Plessis voorberei om Stellenbosch te verlaat, dink hy met dankbaarheid terug aan sy tyd by die instansie. “Om ’n professor te wees, is die beste werk in die wêreld,” sê hy. Dit was vir hom ’n voorreg om in soveel verskillende hoedanighede deel van hierdie universiteit te wees. Hoewel hy nie meer in die universiteitsbestuur sal wees nie, bly sy nalatenskap sigbaar in die studente wat hy opgelei het, die beleidsrigtings wat hy gehelp vorm het, en sy volgehoue pleidooi vir akademiese vryheid en intellektuele nuuskierigheid. “Universiteite is van die belangrikste instellings in ’n samelewing,” sê hy. Hy mag dalk Stellenbosch verlaat, maar sy idees en invloed sal nog lank in die sale van die universiteit voelbaar wees.
Deur Roosje Grobbelaar