Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Anke Maritz

Photo: Emma Olivier

Die samekoms van eendersdenkende mense, die smaak van wyn in jou mond, en die geluid van kuns en kreatiwiteit wat deur jou ore lui – wat meer wil ’n mens hê? Liefhebbers van die Afrikaanse digkuns het Donderdagaand, 3 Augustus, in die Oude Leeskamer versamel en op die punt van hulle stoele gesit om te luister hoe die nuwe generasie se skrywers hulle meesterstukke voorlees. Gedigte oor liefde en die dood, verhoudings en woorde, en selfs ’n ode aan ouma en haar sjokolade koekies is voorgedra. Daar was iets van alles en iets vir almal.

Die jong, innoverende studente van Stellenbosch se vlam vir Afrikaans brand helder en is vasgevang in die 2022-Penseel-bundel. Penseel is ’n studente- gedrewe, Afrikaanse digbundel wat bestaan uit gedigte en kortverhale. In 2022 is daar meer as 150 skryfstukke ontvang waarvan slegs 70 gepubliseer is. Dié handjievol gekose individue het die geleentheid gehad om Donderdagaand hulle gedigte voor te lees en met trots hulle kuns met die wêreld te deel.“Dis ware appreciation,” sê Lienke Norval, tweedejaar-BA-student in geesteswetenskappe, wanneer sy oor die aand praat. “Ek waardeer geleenthede soos Penseel verskriklik baie, want dit gee vir die mense wat skryf as ’n passie sien ’n plek om te wees en ’n plek om gepubliseer te word.”

Norval se liefde vir skryfwerk is beslis nie ’n nuwe passie of ’n tydelike stokperdjie nie, maar eerder ’n gawe wat al van kleins af begin het: “My ouers het baie embarrassing videos van my wat as vyfjarige gediggies vir hulle doen.” Norval noem dat sy beplan om haar honneurs in joernalistiek te doen, maar indien haar toekoms nie uitwerk soos sy beplan nie, sal sy altyd aanhou skryf – waarookal sy is.

Anouk Cronjé, derdejaar-BA-student in geesteswetenskappe, se werk verskyn nie net in die 2022-uitgawe van Penseel nie, maar sy is óók die redaktrise. Haar waardering vir Afrikaans en digkuns het reeds in haar tienerjare begin en sy noem dat sy hoop om ’n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands te verwerf. “Ek sal altyd aanhou skryf.” Haar gunstelingskrywers, onder andere, is Loftus Marais en N.P. Van Wyk Louw.

Die Penseel-poësie-aand was’n groot sukses en daar is geen twyfel dat die studente van Stellenbosch ’n passie en talent vir die Afrikaanse digkuns het. Hulle bars van opgewondenheid oor die toekoms van Afrikaans. Wie weet, dié skrywers mag dalk net eendag jou nuwe gunstelingskrywer word!

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial