Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer
Foto: Emma Olivier

Die Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]AS) het op Dinsdag, 11 April die nuutste Penseel-bundel bekendgestel. Die studentepublikasie is in 1969/70 deur Danie Botha en Fanie Olivier gestig, en bied sedertdien geleentheid vir Maties om hulself kreatief digterlik uit te druk. Sommige literêre bekendes wat al in Penseel verskyn het, is, onder andere, André le Roux, Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden.

Die 2022-Penseel se treffende voorblad (deur Ron Sauerman ontwerp), weerspieël in hierdie geval beslis die inhoud van die bundel. ’n Leser wat woordkuns so kleurvol en dinamies soos die omslag verwag, sal nie teleurgesteld wees nie – kleurvol en dinamies nie net in terme van ryk, denkwaardige beeldspraak nie, maar ook in die bundel se tematiese verskeidenheid en skakerings van skryfstyle.

Die bekendstellingsgeleentheid in die Hofmeyr-saal was ’n gesellige samekoms met smaaklike versnapperings en aangrypende voorlesings. Die redaktrise van die 2022-bundel, Anouk Cronjé, sê dit was ’n goeie geleentheid “om die digters self te leer ken… en te sien uit watter oord kom hierdie skryfwerk”. 

Sy voeg by dat die gedigte “nuwe lewe” kry wanneer dit voorgelees word.

Suné Mostert, Tweedejaar-BA (Taal en Kultuur)-student, vertel: “Die aand van die bekendstelling was vir my baie spesiaal, aangesien ek een van my gedigte kon voorlees, en die ander digters se gedigte kon hoor en weer na die tyd lees. Ek het raakgesien gevoel. Ek het nuwe like-minded mense ontmoet wat in skrywersvriendskappe blom, waaroor ek opgewonde is. Penseel-bekendstelling: wyn en digkuns; 10/10!”

Cronjé verduidelik dat die keuringsproses behels het dat ’n advertensie vir inskrywings uitgestuur is. Inskrywings is dan anoniem aan die keurderspaneel (dr. Amanda Marais, dr. Alfred Schaffer en mnr. Marius Swart) gestuur en volgens ’n puntestelsel gekeur. Die puntestelsel het ’n afsnypunt gehad. Almal bo die afsnypunt is by die publikasie ingesluit. Omdat die bundel geen spesifieke tema het nie, was daar veel ruimte vir allerlei onderwerpe.

Die redaksie, Anouk Cronjé, Rentia Meyer (onderredaktrise), Maya Joubert, Cameron-Jo Benjamin en Duné van Jaarsveld, het met die leiding van prof. Andries Visagie ’n pragbundel voortgebring en vir opkomende skrywers die geleentheid gegee om die publikasiewêreld te verken. Penseel (2022) is teen R70 in kamer 680 van die Lettere-gebou beskikbaar.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial