Erika Marais en Wessel Pretorius in The Unlikely Secret Agent. Foto verskaf deur Woordfees webtuiste.

The Unlikely Secret Agent – ʼn Produksie Vol Verrassings

By Ila Alberts

Spioenasie, intrige en verbode liefde – onder normale omstandighede is dit ’n wenresep vir enige drama. Gooi egter geskiedkundige akkuraatheid en struggle-legendes daarby, en jy het draaiboek skrywer Paul du Toit se veelbekroonde The Unlikely Secret Agent deur Unlikely Productions.

Die drama vertel die ware verhaal van Eleanor Kasrils, die oorlede vrou van voormalige Minister van Intelligensiedienste, Ronnie Kasrils. Kasrils vorm gedurende die 1960’s deel van uMkhonto weSizwe (MK), die African National Congress (ANC) se militante vleuel. Eleanor is ’n doodgewone geskeide enkelma wat in Durban verlief raak op Ronnie, ’n kommunistiese Jood en ANC-lid. Die toneelstuk is op haar biografie met dieselfde titel gebaseer. Dit fokus op haar deelname aan ondergrondse aanvalle van die MK, haar ondervraging deur die destydse Veiligheidspolisie, en haar ontsnapping uit ’n psigiatriese instituut. 


Ensemble in Fort Napier psigiatriese hospitaal in The Unlikely Secret Agent. Foto verskaf deur die amptelike Woordfees webtuiste.

Dié Engelse draaiboek is gesofistikeerd en intelligent geskyf. Die toneelstuk tref ’n gesonde balans tussen erns, spanning en komiese oomblikke. Rekwisiete en beligting word spaarsamig, dog effektief gebruik. Verder vertolk slegs vyf akteurs menige rolle. Du Toit, neem die nie-rassige uitkyk van die hoofkarakter beslis aan, met Ntlanhla Kutu wat onder meer tot die rol van ’n ou Skotse dame vertolk. Geen ras of karakter is buite perke vir enigeen van dié akteurs nie. Elkeen kwyt hulself uitnemend van hulle taak – veral Erika Marais wat besondere lof vir haar vertolking van Eleanor verdien.

Willem Roux, ʼn tweedejaar-BRekLLB-student, het die produksie terdeë geniet en beskryf dit as “uiters relevant” en die akteurs se spel as “uitstekend”. Hy waardeer veral die toneelstuk se geskiedkundige akkuraatheid en sê,  “Jongmense van vandag dink soms dat daar net swart mense betrokke was by die struggle, maar dis nie die geval nie.”

Eleanor Kasrils se verhaal is dus ’n ontnugterende herinnering dat ieder en elk ’n verantwoordelikheid het om teen ongeregtigheid op te staan, of jy daardeur direk of indirek geaffekteer word of nie. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial