Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Ané Havenga

Angie Oeh se eerste tattoo was ’n smiley op haar gesig, haar antwoord op amper alles is Post Malone, en nee, sy is nie Yolandi Visser nie, maar tog is daar meer agter hierdie Pretoriaanse mumble rapper. 

In Mei het sy haar EP, Sex in Afrikaans, uitgereik en dit het tonge behoorlik laat klap, maar een ding is wél seker ‒ dit is iets heeltemal nuuts in Afrikaans. Nog meer, dit is ’n vrou wat haar stem in hierdie genre dik maak. Einde Julie het haar eerste musiekvideo met dieselfde naam die lig gesien en sy beskryf dié video as “open space, cars, bikes, booties, smoke and Jägermeister. Overall, just nice shit!”

Die 23-jarige het begin musiek maak toe sy skool voltooi het en in ’n streetwear-winkel begin werk het. Haar passie vir musiek en sang het haar geïnspireer om vir twee jaar in die Engelse mark te probeer inkom, maar met min sukses. Dit is egter toe sy verlede jaar net eenkeer na Afrikaans met “Dis jou Wyfie” gedraai het wat alles ontplof het. Sy droom steeds om die Engelse en internasionale mark te betree en met mense soos Nasty C, Post Malone of Jack Harlow te werk. 

Oeh verduidelik haar naam as volg: “In my Engelse musiek het ek baie die ad lib ‘oeh’ gebruik. Toe dink ek ‘kom ons fokken doen dit net, want ek gebruik dit heeltyd’. Mense gaan my in elk geval tune daaroor!” 

Oeh verkondig een boodskap: “Ek wil net vir meisies in Suid-Afrika dit beter maak om shit te doen; dis tans bietjie kak met al die male energy oral. Ek is super excited om te sien waarmee ander females gaan opkom en ek hoop regtig dit gaan gebeur. As daar chicks is wat wil begin rap, doen dit net.” 

Sy is ’n vrou van vele talente en skryf graag haar eie musiek (sowel as die beats) by die huis. Daarna werk Peach van Pletzen, van die musiekgroep Van Pletzen, daarmee om dit net nog beter en meer opwindend te maak. 

Oeh het ook al saam met ander kunstenaars soos Jack Parow, lil saddyz, Loufi en Van Pletzen gewerk. Oor wie haar inspireer, lig sy drie mense uit, naamlik Wynand van Fokofpolisiekar, Post Malone en Jack Parow.  

Oeh gee aanhangers vir tyd en wyl die opwindende nuwe musiekvideo vir “Sex in Afrikaans”, maar daar is nog baie in die pyplyn, soos nuwe merch, haar nuutste EP wat in September uitkom en ’n lekker partytjieliedjie wat ons selfs nog meer gaan laat gons en bons as Sex in Afrikaans. 

Haar benadering tot die lewe is eenvoudig: “Voel ’n fok met net goeie vibes. Doen wat jy wil doen en doen dit goed.”

Oeh se musiek kan op Apple Music en Spotify gevind word, en sy kan by @angie_oeh op Instagram gevolg word.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial