Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Ané Havenga

Negentien spelers onderskeidelik van Maties se mans- en vrouehokkiespan het die 2022 Universiteitsport Suid-Afrika (USSA) toernooi gehaal. Dit is ’n reuseprestasie om Maties by hierdie prestige toernooi te verteenwoordig en die spanne het nie teleurgestel nie. Maties se eie Jacques van Tonder, doelskieter en finalejaar-BCom (Internasionale Besigheid)-student, en Stephanie Botha, middelveldspeler, is ook as spelers van die toernooi aangekondig. 

Hierdie toernooi het gedurende die Julie-vakansie plaasgevind met al die wedstryde wat tussen 4 en 8 Julie op Universiteit van Kaapstad (UK) se astro gespeel is. Botha, sesdejaarstudent en tans besig met haar nagraadse diploma in bemarking, vertel: “Ons span was positief; ons was goed voorbereid en ons het met die doel gegaan om ons beste te doen en moontlik goud te wen.” 

Die eerste dag se resultate het vir Maties glad nie volgens plan verloop nie en die vroue moes tevrede wees met ’n 1 – 1 vertoning teen die span van Noord-Wes Universiteit se Potchefstroom-kampus. Die mans het 2 – 4 teen die Universiteit van Pretoria (UP) verloor. Botha verduidelik dat USSA egter altyd ’n groot en moeilike toernooi is. 

Op die tweede dag het die momentum na Maties se kant toe geswaai soos die vroue 3 – 0 teen Universiteit van Johannesburg, en die mans 9 – 0 teen Varsity College gewen het. 

Volgens Brendan du Toit, doelwagter en MIng (Bedryfsingenieurswese)-student, het hulle ’n goeie aanloop tot die toernooi gehad en die doel voor oë was om nie op die wen te fokus nie, maar om op elke 60 minute te fokus. 

Du Toit lig uit: “Toernooie is heeltemal anders as ligawedstryde. Met ’n toernooi is die hele span die heeltyd saam en bou jy ander tipe verhoudings as net by oefening. Veral as dit ’n lekker klomp mense soos hierdie span is.” 

Op die derde dag het albei spanne met oorwinnings gespog wat die spanne na die halfeindrondtes gestuur het. Die vroue het die UK met 8 – 0 geklop en die mans het met 4 – 1 teen Nelson Mandela-universiteit gewen.

Die vroue het teen die vierde dag ’n 3 – 2 naelskraapoorwinning teenoor die Universiteit van die Witwatersrand behaal met die mans wat met 2 – 0 teen die Universiteit van die Witwatersrand afgereken het. 

Albei spanne speel in die finaal teen UP, ’n regte noord-en-suid-derby. Die manspan draai hulle eerste rondte om en wen 5 – 3.

Du Toit verduidelik: “Ons kon vir jare nie die goud wen nie en om dit nou reg te kry, is ongelooflik; dis iets wat die span en ek nooit sal vergeet nie. Die prestasie is vir my ’n voorreg. Dit maak al die laat aande en die vroeë oggende die moeite werd.”  

Die vroue het ook die verdedigende kampioene 2 – 1 gewen om as die wenners gekroon te word. Botha sê dat hulle van die begin af besluit het om net op hulle eie spel te fokus, die wedstryd stap vir stap te vat, en sodoende net op elke kwart te fokus.

Botha lig uit: “Die experience was ongelooflik, veral om teen die beste universiteite te speel. Ons span het die heeltyd ’n positiewe energie uitgestraal. Die wen-gevoel was groot. Dit het my persoonlik vier jaar gevat – elke keer was ons naby en om dit uiteindelik deur te trek hierdie jaar was wonderlik. Dis ’n gevoel wat ek nie lekker kan beskryf nie.” 

Oor haar eie prestasie as speler van die toernooi is sy maar beskeie en sou sy graag dié toekenning met elkeen van haar span deel. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial