Deur Kezia Daniels
Dit is geen geheim dat die Universiteit Stellenbosch (US) talle studentegroepe en -verenigings het waarby studente kan aansluit nie. As daar ’n verandering is wat jy wil maak of ’n groep waarvan jy deel wil wees, is daar ’n 100% waarborg dat die US ’n vereniging waarvan jy ’n lid kan word, het.
Sommige van die verenigings waarby studente kan aansluit, is die Operation Smile-studentevereniging, SPYS en PULP-filmvereniging.
“Daar is ’n vereniging vir elkeen om by aan te sluit; ek wil nie enige van die verenigings uitsonder nie,” het Tamara Wicomb, die Studenteraad se voorsitter van die verenigingsraad en honneursstudent in BAHons (Joernalistiek), gesê.
Operation Smile-studentevereniging
Operation Smile-studentevereniging aan die US, geaffilieer met Operation Smile Suid-Afrika (’n nie-winsgewende organisasie), is een van daardie verenigings waarby studente moet aansluit as hulle na verandering streef.
Operation Smile doen fondsinsamelings en bewusmaking om korrektiewe gesigchirurgie te verskaf aan diegene wat met ’n gesplete lip en/of verhemelte gebore is.
“Die huidige vereniging, Smile Operation op die Stellenbosch-kampus, wil ’n gevoel van gemeenskap en bewustheid op kampus kweek wat na gebiede in nood binne die Stellenbosch-distrik vertak,” het Wicomb gesê.
SPYS
“Een vereniging wat ek gedink het nogal cool was, is SPYS,” het Wicomb gesê.
SPYS (Spirituality, Philosophy and Yoga Society) is ’n vereniging om by aan te sluit as jy aan jouself en jou gesondheid wil werk. Hierdie vereniging het weeklikse joga-, mantra- en meditasiesessies.
“SPYS is vol regtig wonderlike, ontvanklike mense, waarvan baie buite die norm van studentekultuur leef,” het Ameryn Peters, ’n lid van die vereniging, gesê. “Stellenbosch kan ’n eensame plek vir mense wat ‘anders’ is, wees en al is jy nie, is jy gewaarborg om verwelkom te word, maak nie saak wat nie,” gaan sy voort. “’n Universiteit is ’n plek om te leer, maar moenie jou eie welstand afskeep nie.”
PULP-filmvereniging
Geen student is ’n vreemdeling vir die PULP-bioskoop nie. Met die doel om hulle lede se denke deur middel van film uit te brei, hoe kan jy nie by hierdie vereniging wil aansluit nie? PULP is ’n vereniging wat ’n kulturele ervaring en gemaklike omgewing vir alle filmliefhebbers bied.
“Ek dink dit is goed om by die PULP-filmvereniging aan te sluit, want dit stel jou eerstens bloot aan ’n reeks flieks wat jy gewoonlik nie sal oorweeg om te kyk wanneer jy ’n fliek op Netflix of Showmax kies nie. Tweedens, om by die PULP-gemeenskap aan te sluit, sal jou help om met ander fliekliefhebbers te skakel,” het Mikayla Brown, lid van die PULP-filmvereniging, gesê.
Om by enige gemeenskap op kampus aan te sluit, sal ’n goeie stap wees om met nuwe dinge en mense te skakel. Soos Wicomb vroeër gesê het: “Daar is ’n plek vir elke student in elke vereniging.”