GRAS GESELSIES Feesgangers geniet die saligheid van die gras se skaduwee voor die fees begin. Foto: Skyla Thornton

Die Matie se Feesoorlewingsgids

Deur Anakin Curtis (Vertaal deur Mieke de Wet)

Toe oom Cyril die einde van die nasionale ramptoestand effektief ­vanaf middernag op Maandag 5 April aangekondig het, het hy ook onbewustelik die sluise vir die feesseisoen oopgetrek. Soos die feesseisoen weer begin, verskyn die probleem van eerstekeer-feesgangers wat net een paar skoon onderklere inpak en wat hulle ook al kan insmokkel met dié wat hulle op die oomblik dra. So om die skade veroorsaak deur sulke haastige besluite te verminder, het ons besluit om ’n lys van moet-inpak-items saam te stel.

Die Basiese Benodighede

Voordat jy jou pick-up line om tussen sets in iemand se oor te skree, begin oefen, moet jy eers seker maak dat al jou admin in orde is. Dit sluit goed soos jou ID, kaartjies, kamppermit en bankkaart (indien daar ’n kontantlose kroeg is) in. Maak ook seker om ander belangrike goed soos ’n waterbottel, sonbrandroom, ’n handdoek en, as jy gaan poog om te slaap, oorpluisies in te pak. Net in geval van besering is dit ook ’n goeie idee om ’n noodhulpkissie in te pak. Sluit pleisters, ontsmettings­middel en handreinigingsmiddel in. Hou al hierdie goed in ’n rugsak, en maak seker dat jy weet waar dit te alle tye is.

Kamptoerusting

As jy na ’n naweek-lange fees gaan, sal jy ’n tent benodig. ’n Skare mense kan uitputtend raak, so maak seker dat jy ’n gemaklike plek inrig waarnatoe jy kan ­terugkruip. Bring ’n slaapsak, komberse en ’n paar kussings saam. ’n Lugmatras behoort ’n goeie aand van slaap te verseker, maar as jy nie baie spasie het nie, sal ’n jogamat ook werk. Eindelik, slaan ’n kampstoel voor jou tent op om jou tuiste vir die naweek af te rond. As jy waardevolle items soos ’n kamera of ’n skootrekenaar saamneem, maak seker om jou tent toe te maak en wees waaksaam.


TOUSTAAN Rye voor feesgronde se ingange kan selfs to kilometers strek. Foto: Skyla Thornton

Toiletware

Toiletpapier, tissues en wet wipes. Wanneer die ry buite die stort te lank is en jy het geen ander opsie nie, dan is ’n pakkie wet wipes en ’n paar bottels water die manier om te gaan. Insekmiddel is ook baie waardevol as jy in ’n area met bosse is.

Klere

Soos ons die kouer tyd van die jaar betree, kan ­weervoorspellings misleidend wees. Moenie vir die idee dat jy nie ’n baadjie sal benodig nie en dat jy eenvoudig “jouself warm sal dans” val nie. Bring ’n hoodie vir wanneer dit donker raak. Jy kan ook enigiets anders dra waarin jy gemaklik is, maar wees reg vir die koue.

Kos

As jy toegelaat word om kos te bring, hou eerder by onbederfbare kos. Tente kan warm word, so vermy kos wat teen hoë temperature bederf kan raak. Voedselvergiftiging is nie lekker nie, veral nie as jy ook babelas het nie.

As jy na ’n daglange fees gaan, soos die opkomende Rocking Stellies, hou net by die basiese benodighede. Die belangrikste goed om te onthou is sonbrandroom en water. Maar wees versigtig: net omdat somer verby is, beteken dit nie dat jy kan wegkom met ’n lae SPF nie. 

Onthou dat sonbrand tot dehidrasie kan lei en dit meng nie goed met alkohol nie, so maak seker dat jou waterbottel vol is en smeer weer jou sonbrandroom aan nadat jy geswem het.

Hierdie lys is glad nie uitvoerig nie, maar dit noem wat noodsaaklik is om te weet as jy ’n aangename feeservaring wil hê. Lekker jol! 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial