TRAP VIR DIE TOEKOMS Van der Walt (agter) en Basson (voor) tydens hulle uitgemergelende rit. Foto: Christian Liedtke

Ride4Simon: Simonsbergers pak die stryd teen finansiële uitsluiting aan

Deur Dylan Lee

1577 kilometer te fiets van Potchefstroom tot in Stellenbosch binne ’n kwessie van 14 dae. Dit is die uitdaging wat Janko van der Walt, vyfdejaar-BRekLLB-student, en Marais Basson, tweedejaar-BCom (Bestuursrekeningkunde)-student, vanjaar tussen 10 en 23 Januarie geneem het. Hierdie uitdaging, Ride4Simon, is geloods in ’n poging om geld in te samel vir die Simonsberg-beursfonds wat in die toekoms finansiële steun aan Simonsbergers gaan bied.      

Basson het gesê hy het die idee al in 2020 gekry, maar dat hy en Van der Walt dit een aand ’n stappie verder geneem het en dit ernstig begin oorweeg het. Daarna het hulle dit een Maandagaand by ’n HK-vergadering voorgestel en toe is Ride4Simon gebore.  Hierdie veldtog beoog om R100 000 vir die Simonsberg-beursfonds in te samel. Volgens inwonende hoof dr Leslie “Dok” van Rooi is “Simonsberg-beursfonds – ’n fonds wat jaarliks 10 studente help met inwoningsbeurse van verskillende bedrae.”

Hy het verduidelik dat hierdie fonds jaarliks R300 000 uitbetaal wat vir studente finansiële steuning bied, veral in die “missing middle-kategorie – dit is die studente wie nie deur behoeftigheidsbeurse ondersteun kan word nie en wie deur ouers en ander familie-lede deur lenings, ensovoorts ondersteun moet word.”

Van Rooi het ook bygevoeg: “Kort op hul hakke is ’n oud-Simonsberger, Carloff van der Merwe, wat ook onlangs ’n reis per fiets onderneem het om fondse vir die Simonsberg-beursfonds in te samel.”

Basson en Van der Walt het onlangs op ’n potgooi wat deur die koshuis aangebied word meer oor die fisiese en emosionele uitdagings wat hulle gehad het tydens die 14 dae lange reis, gesê. Dié potgooi is beskikbaar op Spotify en Apple Podcasts onder “Ride4Simon Senaatcast”. Die skakel daarvan is beskikbaar op Simonsberg se Instagram-blad (@simonbergresidence).

Hierdie fondsinsameling het ’n afsnydatum gehad. Hulle het gehoop om die R100 000 merk te haal, maar het R32 980 ingesamel. Donasies het onlangs gesluit, maar kon gemaak word op givengain.com of deur middel van die skakel wat op die Instagram-blad geplaas is.

Alhoewel Basson en Van der Walt die twee hooffigure is wat met die insameling gepaard gaan, is dit ook nodig om erkenning te gee aan Christian Liedtke, ’n mede-Simonsberger en derdejaar-BCom (Wiskundige Wetenskappe)-student, wat die hele pad in ’n veiligheidsmotor die manne gevolg het en bygedra het tot die sukses van die twee se avontuur.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial