DANEEL STONE (links) en sy span. Foto: Kezia Daniels

Adam & Eve bederf Potchefstroom

Deur Emma Hamman

Die passieprojek van Danneel Stone, Adam & Eve Collab, wat Stellenbosch voorgestel het aan bagels, unieke Suid-Afrikaanse handelsmerke en oorgenoeg plante om enige woonstel ’n bietjie meer na huis te laat voel, het op 2 Maart hulle deure vir ’n nuwe tak in Potchefstroom geopen. 

Stone, eienaar en stigter van Adam & Eve Collab, het verduidelik dat dit begin het as ’n projek om ’n bietjie ekstra inkomste te maak. Mettertyd het dit ontwikkel tot ’n winkel in die hart van Stellenbosch wat deel van baie studente se alledaagse lewens geword het. 

“Die doel was om nie net ’n winkel te wees wat handelsmerkklere verkoop nie, maar om eerder ’n unieke ondervinding vir kliënte te skep.” 

Nou, in die vyfde jaar van die besigheid se bestaan, brei hulle uit na Potchefstroom om die studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n Wes-Kaapse belewenis te bied – met selfs, in eg Kaapse natuur, die geleentheid vir wynproe. 

Planne om uit te brei na Potchefstroom is in 2020 deur die pandemie stopgesit. Hierdie planne is na ’n pop-up winkel in Mosselbaai hervat, waar die mark meestal NWU-studente was. Adam & Eve Collab is ná drie jaar se harde werk en planne beraam met ope arms in Potchefstroom verwelkom en oorweldig met al die ondersteuning. 

Volgens Stone was die idee van die nuwe tak om iets esteties en ’n heel nuwe konsep aan die studentedorp te gee. “Die hele idee was om iets uniek daar te gaan skep. Asook net vir almal wat van die Kaap af is en daar bo swot ’n bietjie huis te gee,” het Stone verduidelik. 

Jana Schlechter, ’n honneursstudent in joernalistiek by NWU, het die opening in Potchefstroom bygewoon. Sy het gesê: “Die winkel is ’n mengsel tussen speels en gesofistikeerd, en bied jou alles wat jy begeer: kos, koffie, klere en goeie geselskap.”

Schlechter is van mening dat studente uit Stone se storie kan leer, en dat die beginsel van Adam & Eve Collab goed beskryf word deur die gesegde “waar daar ’n wil is, is daar ’n weg”. 

Stone het verder beklemtoon dat die besigheid se sukses net moontlik is deur al die verskillende insette van handelsmerke, personeel en kliënte. “Wat Adam & Eve spesiaal maak, is dat ons ’n mense-mense handelsmerk is. Ons lewe vir mense om te kan doen wat ons doen,” het Stone verduidelik. 

Die uiteindelike plan vir ­hierdie besigheid is om ’n uitbreiding in elke studentedorp te open, met Johannesburg wat volgende op die lys is. Alhoewel hulle dankbaar en opgewonde is vir die nuwe geleenthede, het Stone verduidelik dat Stellenbosch altyd een voor sal wees.

“Dit is die dorp wat in ons geglo het toe ons nog ’n baie klein besigheid was. As iets spesiaal gedoen word, sal dit altyd eerste in Stellenbosch gebeur,” het Stone gesê.

Woord van Adam & Eve Collab se nuwe tak het vinnig versprei onder die Pukke, en handelsmerke soos Pretty Casual en Old School is reeds volop te sien op kampus. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial