Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR ILA ALBERTS

Die Universiteit Stellenbosch (US) Biblioteek is gedurende die afgelope jaar opgeknap te midde van die COVID-19-pandemie. Luidens persverklarings op die biblioteek se webtuiste het die proses op 29 Maart verlede jaar begin en was beplan om finaal teen einde Januarie vanjaar afgehandel te wees, betyds voordat klasse weer begin.

Volgens ’n berig op die US se webtuiste van 12 Mei verlede jaar vorm die opknappings deel van die Kampusvernuwingsprojek en is R20,5 miljoen daarvoor begroot. Die Kampusvernuwingsprojek is in 2014 van stapel gestuur en beplanning vir die opknapping van die biblioteek het al in 2018 begin.

Die opknappingsproses is in drie fases verdeel, waarvan die eerste een hoofsaaklik op personeelwerkruimtes op die boonste verdieping gefokus het, sowel as die studente se kleedkamers op die onderste verdieping. Die tweede fase, wat verlede jaar Augustus begin het, het splinternuwe werkareas vir besoekers geskep. Hierna het die laaste fase gevolg, waar die ingangsportaal en sekuriteit van die biblioteek verbeter is.

Japie Engelbrecht, fasiliteitsbestuur se direkteur van projekbestuur, het in die bogenoemde berig van 12 Mei gesê dat studente veral kan uitsien na outomatiese uitleengeriewe en ’n nuwe kliёntedienstoonbank, sowel as verbeterde leesareas.

Saaniyah Yacoob, finalejaar nagraadse LLB-student, wat voor die pandemie die biblioteek daagliks besoek het, beskryf die biblioteek as “’n fantastiese studiearea omdat dit so sentraal geleё is”. Die aanlyn besprekingstelsel, wat verlede jaar geïmplementeer is, het die kapasiteit van die biblioteek en toegang daartoe hewig beperk. Dit het haar egter verhinder om die biblioteek se geriewe verlede jaar te nuttig aangesien baie studente lank vooruit sou bespreek sodra gleuwe oopgemaak het.

Talle studente waarmee Die Matie informeel gesels het, was egter onbewus van die opknappingswerk aan die biblioteek. Mari-Liza Coetzee, ’n tweedejaar-BIng (Bedryfsingenieurswese)-student, sê sy was nog nie sedert die universiteit se opedag van 2019 weer in die biblioteek nie en het nie kennis gedra dat dit opgeknap word nie. Sy het nie vandat sy begin studeer
het in die biblioteek gewerk nie, deels omdat sy nie van die besprekingstelsel gehou het nie en deels omdat die ingenieurswese-fakulteit se studieareas reeds voldoende was, alhoewel ouer studente haar dikwels sê hoe baie hulle studiesessies in die biblioteek geniet het.

Volgens Delene Pretorius, hoof van inligtingsdienste by die biblioteek, sien die biblioteekpersoneel daarna uit om vanjaar meer studente te verwelkom. “Om fisiese distansiëring te verseker, sal slegs die helfte van die biblioteek se studiesitplekke beskikbaar gemaak word. Studente sal steeds die aanlyn besprekingstelsel moet gebruik vir gewilde areas soos die leersentrum en die navorsingsruimte. Die ander areas sal egter oop wees op ’n eerste-kom-eerste-bedien-basis,” verduidelik Pretorius.

Die grootste uitdagings in die bouproses was, volgens Pretorius, deur die COVID-19-pandemie veroorsaak. “Die grendeltyd wat in die middel van 2021 strenger toegepas is en die beperkings op die aantal persone wat in die US Biblioteek toegelaat kon word, het vir besondere uitdagings gesorg,” sê sy. “Op ’n stadium mag slegs 50 persone in die biblioteek gewees het. Dit het die spoed waarmee die kontrakteur kon werk gekniehalter omdat die hele span nie gelyktydig in die biblioteek kon wees nie. Wêreldwyd is skeepsvragaflewering ook vertraag. Dit het byvoorbeeld baie langer [geneem] as wat verwag is vir die badkamerteëls om van oorsee te kom.”

Tog is die projek tydig afgehandel. Studente kan uitsien na verbeterde studieareas, meer kragproppe en moderne badkamers.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial