DAGBREEK-MANS neem deel aan die pretloop vir studente by die Straatmyl. Foto: Universiteit Stellenbosch.

Wedloop in Victoriastraat weer Terug!

DEUR JAN-HENDRIK PRETORIUS

Vanjaar sal Jerry Motsau sy titel as voormalige wenner by die Dagbreek-straatmyl kom verdedig en dit maak hom slegs die tweede atleet om so te maak by hierdie wedloop. Die 11de iterasie van die wedloop sal op 13 Oktober in die boomryke Victoriastraat plaasvind. Een van die Universiteit Stellenbosch (US) se manskoshuise, Dagbreek, waar die Straatmyl sy naam vandaan kry, is vanjaar in sy 100ste bestaansjaar. 

Hierdie gewilde wedloop sal deel uitmaak van die eeufeesvieringe van dié historiese koshuis en behoort een van die hoogtepunte op die program te wees. Die Straatmyl word aangebied ter ere van oud-Dagbreker De Villiers Lamprecht wat die eerste Suid-Afrikaner was om ’n droommyl (’n myl onder vier minute) te hardloop op 13 November 1964 by Coetzenburg-stadion. 

“Ons hoop vir die Straatmyl sal wees om dit te laat groei, om Dagbreek en De Villiers Lamprecht te vier en ter nagedagtenis van al die jare wat verby gestap het,” noem Dagbreek se uittredende prim, David Rosselli, wat tans vir ’n nagraadse onderwyssertifikaat studeer. 

Die vorige atleet om sy titel by die Straatmyl te verdedig was die huidige Suid-Afrikaanse mylrekordhouer, Johan Cronje, wat dit in 2015 en 2016 gedoen het. Cronje asook Zola Budd, die Suid-Afrikaanse vroue-rekordhouer in die myl, is genooi en gaan moontlik teenwoordig wees by die verrigtinge.

Motsau spog tans met die huidige Suid-Afrikaanse rekord in die 3000 m met ’n blitsige tyd van 7:40.99 ‒ ’n rekord wat 13 jaar lank gestaan het ‒ wat hy in Junie vanjaar in Nembro, Italië opgestel het. Boonop het Motsau ook die vinnigste 1500 m tyd vir die jaar (3:38.67) wat hy in België gehardloop het. 

Die kompetisie vanuit die Noorde word deur Motsau se oefenmaats, Luan Munnik en sy broer James Munnik, aangevul. Luan spog met ’n persoonlike beste straatmyltyd van 3:52.1, terwyl James ’n persoonlike beste tyd van 3:46.29 in die 1500 m los genael het. Hulle word afgerig deur SA myl-legende Jean Verster, wat die spanbestuurder van die Suid-Afrikaanse atletiekspan by die Olimpiese Spele in Tokio vanjaar was. 

Met die effense verligting van COVID-19-regulasies is die Straatmyl een van die eerste geleenthede vir atlete om bene te rek en weer te kompeteer. Volgens die organiseerders sal “alle [COVID-19]-regulasies gevolg word en toeskouers word versoek om maskers te dra. Sanitasie stasies sal beskikbaar wees.”

A group of men running  Description automatically generated with low confidence

LUAN MUNNIK (middel) en Jerry Motsau (regs) in aksie. Foto: Instagram

’n Verskeidenheid kategorieë is beskikbaar vir atlete wat  o. 13’s en o. 15’s seuns en dogters, o. 19’s mans en vroue, studente pretloop, meesters en die ope-afdelings vir ernstige atlete insluit. 

Rosselli beskou die Straatmyl as ’n manier om fisiese welstand op kampus te bevorder. “’n Kultuur word gereeld geskep rondom dit wat jy vier – by die Straatmyl sal ons graag die werk en moeite van die land se beste atlete wil vier, maar ook almal se toegewydheid om aktief te bly in ’n seisoen van aanlyn klasse en Uber Eats.”

Verder is daar ’n skaatsplank afdeling. Eerstejaar-BIng (Megatroniese Ingenieurswese)-student en kranige skaatsplankryer Arno Zulch meen dié afdeling het ’n rol om te speel om stigmatisering rondom skaatsplankryers af te breek. “Ek glo daar’s ’n groot negatiewe ‘stigma’ agter skateboarding in die wêreld en veral in ons land. En ek dink dis ’n goeie manier om mense te wys dat dit nie net ’n ‘skollie’ ding is om te doen nie,” sê Zulch, wat van plan is om self deel te neem aan die rit. Dit is tans die enigste skaatsplank-myl wat in Suid-Afrika aangebied word.

’n Platejoggie verskaf musiek vir feestelike atmosfeer. Verder sal Eagen Feb vermom as die sanger Michael Jackson die atlete bederf met vermaak. Hy was ’n finalis in Maak my Famous en SA’s Got Talent. 

Registrasie open 16:00 voor Dagbreek-manskoshuis en die eerste wedloop begin om 17:30. Vir enige navrae kan een van die organiseerders, Francois Fouche, by 0833685948 of info@straatmyl.co.za gekontak word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial