Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR KARLA DE BOD

Die bekende musiekgroep Spoegwolf het blykbaar nooit ’n ruskans nodig nie siende dat hulle hul agste album, Silwer, op Vrydag 3 September vir luisteraars as ’n lentegeskenk bekendgestel het. 

Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, gesels met Die Matie met ’n gesindheid van trots oor dié nuutste album. “Ons almal was altyd opsoek gewees na goud, opsoek na ’n plek waar alles perfek is en na infinite riches en fame en so aan,” vertel Du Toit oor die inspirasie agter Silwer. “En ons het besef dat ons eintlik in ’n winter-Stellenbosch met die silwer weer al klaar silwer het, en that’s good enough.”

Silwer bestaan uit nege liedjies wat elk ’n storie vertel om ’n album te vorm wat as ’n 28 minute lange storieboek dien. Die eerste snit van die album, “Velde van Verf”, is uit sagte musiekklanke en drie verskillende oudiobane saamgestel wat dien as ’n uitnodiging om verder te luister. Dié drie oudiobane vorm, volgens Du Toit, deel van ’n breër storie. 

“Die audio van ‘Velde van Verf’ het ons stukkie vir stukkie geskryf,” verduidelik Du Toit. “Een van die stories gaan oor ’n huis waarbinne dit altyd reën, so daar is ’n eiendomsagent wat die huis verkoop.” 

Du Toit vertel verder en sê: “Dan is daar ’n storie van iemand wat totale skisofrenie het, en daardie storie het ons opgedeel in twee verskillende audio tracks.” 

NUWE ALBUM Silwer se albumkunswerk wat ontwerp is deur Danie du Toit se ma, Tertia du Toit. Foto: Verskaf deur Danie du Toit.

Een van die twee oudiobane praat ’n man oor neuroterapie, wat handel oor die selfbeheersing van breinfunksies. Du Toit koppel dié gesprek aan Spoegwolf self en sê: “Ek probeer daarmee amper iets oor onsself te vertel van ’n tyd toe ons almal regtig in ons moer in was en mal was en gesukkel het om te cope met normal reality.”

Die album bevat ’n samewerkingsnit “Lenie Lenie” met Suid-Afrikaanse musikant en internasionale bekroonde dramaturg David Kramer. “David Kramer is definitief een van ons grootste heroes ooit en dis ’n absolute voorreg om met hom te werk,” sê Du Toit. 

Kramer se oorspronklike “Lenie Lenie”, wat in 1983 bekendgestel is, was die vroeër inspirasie vir een van Spoegwolf se bekendste liedjies “Lenie Blou”. Du Toit vertel dat hy nog altyd gedroom het om saam met Kramer te werk en is “flippen dankbaar daarvoor”.

Terwyl die musiekgroep se vorige album Groen (wat ook vanjaar bekendgestel is) deur Apple Music beskryf is as ’n byeenkoms van harde musiek, beskryf Du Toit die nuutste album in ’n soortgelyke manier, maar met ’n agtergrond van dankbaarheid. “Silwer is harde musiek, maar harde, dankbare musiek,” sê Du Toit. “Die temas [van die album] is net happier en nicer en lekkerder, en ons glo daarin.”

Die bekendstelling van Silwer dien vir Spoegwolf as ’n keerpunt in hulle lewe as ’n musiekgroep. Du Toit vertel: “Ons sien die album amper as ’n draaipunt, ’n beginpunt van nuwe dinge, en ons wat saamstaan ná ’n klompie harde jare op die pad.”

“Die album gaan oor ophou jaag en ophou soek en eintlik maar net stilstaan en to be happy with what you have,” sê Du Toit. “Ek wil hê luisteraars moet saam met ons die mooi voel en ’n klein bietjie [dankbaarder] wees en excited wees oor die toekoms en what it holds.”

Met verwysing na die tweede snit op die nuwe album, bewys Spoegwolf met die bekendstelling van Silwer dat hulle werklik “onbreekbaar” is. Hulle aanhoudende en brandende passie om te skep, bied vir luisteraars ’n album vol klanke, stories en dankbaarheid.

SILWER SPORE OP COETZENBURG Die einde van “Silwer” se musiekvideo waar die musiekgroep op Coetzenburg stap. Foto: Eric T. Graham en Andre Badenhorst. Foto geneem vanaf Spoegwolf se YouTube-blad.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial