Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR WILLIAM SEZOE

Die Uitvoerende Komitee (UK) van die Universiteit Stellenbosch (US) Konvokasie het verlede Dinsdag 25 Mei hulleself sterk uitgespreek in ’n mediaverklaring oor hoe die US-bestuur die taalkwessie op kampus hanteer.

Dit kom nadat ’n fluitjieblaser die Sondagkoerant, die Rapport, glo ingelig het oor die stigting van ’n  propagandakomitee wat poog om uit te vind of daar wel op die Maties-kampus probleme is met taal. In ’n voorlegging met die komitee se doelwitte wat die fluitjieblaser aan die Rapport verskaf het, is daar vrae gestel oor wie agter die DAK Netwerk sit en wie hulle befonds. Dié groep bestaan uit bruin taal- en gemeenskapsaktiviste en fokus op die kwessies van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe. Die bogenoemde vrae het ontstaan na aanleiding van die protesaksie wat die DAK Netwerk op 9 April na Admin B gelei het om hulle eise vir ’n gelyke reg tot Afrikaanse onderrig aan die US af te lê.

Daar was onder andere gespekuleer dat dié aktiviste as “fundamentaliste” deur “duistere magte” befonds word. Organisasies soos die Demokratiese Alliansie (DA) en die studenteorganisasie wat hulle beywer vir die regte van Afrikaanssprekende studente, StudentePlein, was ook onder die vergrootglas geplaas.

In hulle mediaverklaring kritiseer die UK die US omdat hulle “slegs ’n vaag-bewoorde antwoord aan die Rapport gelewer [het] wat nie die bewerings en openbarings ontken [het] nie”. 

Die UK is ook bekommerd dat hulle nie van die stigting van die komitee ingelig was nie: “dit [is] verdag dat die bestaan van die komitee nie aan die president en sekretaris ten tye van [hulle] vergadering met US-bestuurslede op 11 Mei, ná die beweerde komitee se stigting, geopenbaar is nie.”

Verder lui die mediaverklaring dat die UK ’n mosie aanvaar het wat eis dat die US-bestuur sy komitee moet ontbind: “die [UK] eis die ontbinding van so ’n komitee en die verbintenis tot oop samewerking oor taalkwessies tussen die talle rolspelers.”

Die US is ook aangevat oor hulle spekulasie dat bruin taalaktiviste befonds word om vir Afrikaans op die US te veg. “Ons neem kennis dat hierdie houding die sneller vir groot ongelukkigheid en aanstoot onder veral die bruin Afrikaanse taalaktivistiese leierskap was, juis omdat dit duidelik impliseer en die skadelike stereotipe versterk dat bruin mense nie vir [hulle] eie belange kan opstaan nie, en altyd iemand sinister se speelbal is,” lui die mediaverklaring.

Die UK eis verder ’n onvoorwaardelike verskoning vanaf die US aan Afrikaanssprekende aktiviste en veral aan bruin aktiviste. 

Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK Netwerk, het aan Die Matie sy ongelukkigheid uitgespreek oor die uitlating dat hy en sy organisasie deur “duistere magte” betaal word om op kampus ten gunste van Afrikaans op te tree. “Ons verwerp die uitlating met al die minagting wat dit verdien. DAK Netwerk verteenwoordig geen drukgroep nie. Ons is nie ’n front van enige konserwatiewe groep nie. Ons word ook deur geen konserwatiewes befonds nie,” sê Van Wyk.

Hy voer verder aan dat hy die bruinmense verteenwoordig en dat hy weer met die US hieroor in verbinding sal tree. “Ons verteenwoordig die bruinmense. Vir te lank was daar namens ons gepraat. Ons praat nou vir onsself. Die US het ons uitgenooi vir ’n gesprek in Junie. Ek sal dit aan hulle duidelik maak dat [hulle] ons as bruines gedurende apartheid uitgesluit het as gevolg van ons velkleur, nou sluit [hulle] ons uit op grond van ons taal,” verduidelik Van Wyk.

Die DAK Netwerk hoop dat die US ten minste drie van hulle eise wat hulle op 9 April teen Admin B vasgeplak het suksesvol in ag sal neem. “Ons wil ten minste [in Junie] wegstap van [daardie] vergadering met drie suksesvolle eise,” sê Van Wyk.

Intussen het prof Hester Klopper, Viserektor van Strategie en Internasionalisering, in ’n brief aan personeel probeer “om die feite aan te bied en onakkuraathede en wanopvattings oor die universiteit reg te stel”.

In die brief noem Klopper dat die US besluit het om ’n Taalkommunikasiekomitee (TKK) te stig om kommunikasie oor die hersiening van die taalbeleid te ondersteun en strategies te rig. Sy maak dit verder in haar skrywe duidelik dat die TKK nie ’n propagandakomitee is soos dit in die media uitgebeeld word nie. 

Klopper noem dat sy op die TKK as sameroeper dien en dat die res van die TKK bestaande is uit prof Deresh Ramjugernath (Viserektor vir Leer en Onderrig), dr Antoinette van der Merwe (Senior Direkteur vir Leer- en  Onderrigverryking), dr Choice Makhetha (Senior Direkteur vir Studentesake), dr Leslie van Rooi (Senior Direkteur vir Sosiale Impak en Transformasie), Karen Bruns (Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge), Martin Viljoen (US-woordvoerder), Chirstelle Feyt en Desmond Thompson (Divisie Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking), Gerhard Lippe (regsdienstiger), en dr Wayne Muller (bestuurder van die US se Verantwoordelikheidsentrum vir Strategie en Internasionalisering) as koördineerder.

Martin Viljoen, US-woordvoerder, het aan Die Matie genoem dat die “ US ’n plig [het] om oor aktuele sake soos geslagsgebaseerde geweld, hoëronderwysfinansiering, transformasie en taal te kommunikeer. Vir dié doel is ’n struktuur [die TKK] geskep om kwessiegebaseerde kommunikasie te koördineer”.

Viljoen verwys verder na ’n inligtingstuk wat Hester op 26 Mei gepubliseer het en haal daaruit aan wanneer hy sê: “Dít is nie ongewoon vir groot organisasies soos universiteite nie. Die doel is om konsekwentheid in ons kernboodskappe, doeltreffende reaksies op medianavrae en sinvolle bydraes tot die openbare debat te verseker.”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial