TUKTUK - Dylan Hayward, eienaar van Mullé Tuktuks, sit op een van sy besigheid se tuktuks. Foto: André Schoeman.

Tuktuks Laat die Wiele Rol en Ry die Strate Vol

DEUR JACQUES MARAIS

Mullé Tuktuks is Stellenbosch se nuwe vervoerbesigheid en die wiele is spoedig aan die rol met die nuwe toep wat onlangs op alle groot toepwinkels vrygestel is. Die naam kom vanaf die korrekte manier om die naam van die eienaar, Dylan Hayward, se haarstyl uit te spreek.

Hayward sê dat die diens mik om beter te wees as hulle mededingers in terme van hulle sekuriteit – met die invoeging van ’n paniekknoppie vir beide bestuurder en passasier – en in die sin dat dit hotspots of gewilde plekke aan die passasier voorstel indien hulle nog nie weet waarheen hulle wil gaan nie. 

Die toep se werking is eenvoudig: Jy verskaf ’n paar basiese besonderhede en is dan geregistreer. Jy kies dan die plek waarheen jy wil gaan deur óf ’n adres bo-aan in te vul, óf uit die hotspots-opsie uit die kieslys aan die linkerkant te selekteer. Om te betaal vir die rit laai jy geld op jou rekening van jou bankrekening af. Jy kan ook gunstelingplekke stoor en ’n spoedkontak-knoppie is beskikbaar vir noodgevalle.

Oor tyd hoop die eienaar dat die besigheid ook werk sal verskaf aan studente wat dalk minderbevoorreg is en graag ’n inkomste wil verdien. Hy hoop ook om, deur die hulp van sekere sekuriteitsmaatskappye, die beste moontlike sekuriteit te verseker vir beide bestuurder en passasier. 

“[Dit is] beter vir die omgewing en veiliger,” is Dawid Turkstra, ’n BIng (Siviel)-student, se kommentaar oor die diens en die rede waarom hy meen hy dit sal gebruik.

Dylan van Vuuren, ook ’n BIng (Elektries en Elektronies)-student, sê egter dat stap steeds goedkoper is en dat hy dit eerder verkies. “Mens spaar net soveel geld om te stap,” sê hy. 

Die toep is tans onder die naam “Mullé Tuktuks” beskikbaar en kan deur enigiemand gebruik word. Die besigheid is ook op Instagram en het hulle eie webtuiste.

Please follow and like us:
Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram