Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR DOMINIQUE FUCHS

Dr Willem Anker het al verskeie boeke en dramas gepubliseer wat groot opslae in die Suid-Afrikaanse letterkunde gemaak het. Sy nuutste roman Skepsel het die gesogte Universiteit van Johannesburg (UJ)-prys gewen. Dit is die derde keer dat Anker dié prys inpalm en hy is slegs die tweede persoon wat dit al reggekry het om die prys drie maal te ontvang.

Anker doseer Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk by die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het in 2006 by die universiteit begin klasgee nadat hy self ’n BA-graad met Afrikaans, Engels, en Filosofie aan die US voltooi het.

Op skool het Anker al gehou van opstelle skryf, maar hy het eers in sy meestersjaar aan ’n roman begin werk. Sy boeke en dramas handel oor interessante onderwerpe. Anker som Skepsel in drie sinne as volg op: “’n Vrou kom uit Nederland om haar sterwende pa te kom besoek wat bly in ’n slimhuis wat hyself ontwerp het. ’n Cyborg trou met ’n olietenker. ’n Argeoloog verdwyn by ’n uitgrawing van reuse vreemde voorwerpe wat beendere kan wees.”

Vir diegene wat wonder waar al sy idees vandaan kom, sê Anker: “Soms is dit ’n idee en soms ’n belewenis. Skepsel is byvoorbeeld gebore by plekke wat ek besoek het: die aanvanklike idee by ’n privaatnatuurreservaat, later het trips langs die Weskus die storie vorm laat kry en begin 2019 is [daar] ook planne in Svalbard [Noorweë] beraam.”

As hy met enigiemand dood of lewend ’n gesprek kon voer, sal dit die persoon wees wat die eerste keer vuur gemaak het. Op die vraag wat sy gunstelingboeke is, antwoord Anker: “Daar is baie skrywers wat op sekere tye my gunstelinge was. Op universiteit was The Sound and the Fury van William Faulkner en Onse Hymie van Etienne Leroux my gunstelingboeke. Die laaste tyd is Don DeLillo, Michel Houellebecq en Jeff VanderMeer my oorsese gunstelinge, maar dis net vir nou.” 

Hoewel Anker sê dat hy nie op die oomblik ’n gunstelingaanhaling het nie en hulle te vinnig vergeet en verkeerd oorvertel, kon die volgende aanhaling van hom wel op die internet opgespoor word: “Soms skryf ek omdat hierdie sirkus nie sin maak nie. Soms skryf ek omdat hierdie sirkus nie genoeg is nie. En soms skryf ek om sirkus toe te gaan.” 

Skepsel is op Amazon, Takealot en Loot beskikbaar. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial