deur Karla van der Merwe
Die Universiteit Stellenbosch (US) se Studenteraad (SR) het onlangs op hulle Instagram-blad bekend gemaak dat hulle ʼn trans-taakspan gaan stig. Die advertensie, wat op 3 April op hulle Instagram-storie geplaas is, noem dat aansoeke tot 12 April sal oop wees vir studente om by die taakspan aan te sluit. Dié groep sal verantwoordelik wees om te help om probleme wat transgender en gender nie-konformerende (gender non-conforming) US-studente op kampus ervaar, op te los.
Volgens dié studente is die grootste probleem wat hulle ervaar dat die verkeerde name of titels op die universiteit se sisteem reflekteer. Cody van der Linde, ’n eerstejaar-B (Maatskaplike Werk)-student, verduidelik dat toe hulle by die US aansoek gedoen het, hulle aangedui het dat hulle verkose titel “Mx” is. Hoewel die titel van “Mx” op hulle studentekaart verskyn, toon die sisteem egter nie hulle voorkeurnaam nie. Ten spyte daarvan dat aansoekvorms voornemende studente se voorkeur- en wettige name vereis, verskyn slegs Van der Linde se wettige naam op die sisteem.
“Ek het my voorkeurnaam gegee en daar is ʼn opsie om jou naam op SUNLearn by die instellings te verander, maar elke keer wat ek dit doen, verander dit net later weer terug na my wettige naam,” verduidelik Van der Linde. “Dit suck net aangesien baie van ons wat nie-binêr of [transgender] is en nog nie wettiglik ons name kon verander nie, nie die opsie het om ons voorkeurname te gebruik nie.”
ʼn Ander student, wat eerder anoniem wil bly, vertel dat ’n mens egter nie sonder die toestemming van ʼn administrateur jou naam op SUNLearn kan verander nie.
“Ek voel [ʼn administrateur se toestemming] is onnodig omdat dit vereis dat [transgender] individue aan vreemdelinge moet uitkom,” sê hy.
Die probleem aangaande die name kom ook verder in klasse voor. Volgens Van der Linde gebruik dosente individue se deadnames (oftewel hulle wettige name waarmee hulle nie meer identifiseer nie) wanneer hulle aanwesigheid aanmerk en name uitroep.
“Ons is geforseer om ons deadnames te sê en die hele situasie voor almal te verduidelik omdat hulle gewoonlik vir ons sal sê ‘jou naam is nie hier nie’ as ons die name noem wat ons eintlik gebruik,” vertel hulle.
Albei Van der Linde en die anonieme student erken dat hulle verstaan dat die universiteit ʼn mens se wettige naam nodig het vir byvoorbeeld die druk van grade of vir ander administratiewe doeleindes. Van der Linde voel egter dat aangesien studente net hulle studente nommers kan gebruik, die naam wat hulle gebruik nie saak hoef te maak nie.
“Die universiteit kan meer stappe neem om te verseker dat studente gemaklik is,” sluit die anonieme student by Van der Linde aan.
Op navrae aangaande die situasie met hoe individue se name op die sisteem verskyn, sê Martin Viljoen, woordvoerder van die US: “Die universiteit probeer om waar moontlik aanspreekvorme en titels – en studente se keuses daar rondom – te respekteer.”
Hy verduidelik egter dat die universiteit weens wetlike vereistes nie ’n student se amptelike naam of name op die stelsel mag verander voordat die korrekte wetlike prosesse nie gevolg is nie. “Studente het natuurlik die opsie om [hulle] name amptelik by binnelandse sake te verander. Indien so ’n dokument dan getoon word, kan die universiteit die [amptelike] name verander.”
Viljoen sê dat die stelsel studente wel toelaat om hulle voorkeurname te verander, maar dat die klaslyste wat deur dosente gebruik word egter eers sal verander as die dosent ’n nuwe klaslys van die stelsel aflaai.