De Villiers, Van Deventer en Roos by die ondertekening van die MvV

De Villiers, Van Deventer en Roos by die ondertekening van die MvV

Lig aan die einde van beurtkrag vir Stellenbosch

DEUR TIVAN LEAK

Stellenbosch-munisipaliteit gaan moontlik die land se eerste munisipaliteit sonder beurtkrag word.

Die Stellenbosch Munisipale Raad het einde Januarie eenparige goedkeuring verleen om ’n wetenskaplike ondersoek, aangaande die gebruik en opwekking van alternatiewe elektrisiteitsvoorsiening, van stapel te stuur. ’n Memorandum van verstandhouding (MvV) tussen die Munisipaliteit en hulle navorsingsvennote is 24 Februarie onderteken.

Die besluit volg nadat nuwe regulasies in Oktober verlede jaar deur die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, in die Staatskoerant gepubliseer is.

Hierdie regulasies vereis dat munisipaliteite hulle Eskom-rekeninge op datum moet hê en vooraf by Mantashe en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) aansoek moet doen.

Kandidaatmunisipaliteite sal die haalbaarheid van hulle projekte met navorsing moet kan staaf.

Die Stellenbosch Munisipale Raad sal die navorsing in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US), die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) en die Wes-Kaapse regering onderneem. Uitvoerende burgemeester adv Gesie van Deventer, US-rektor Wim de Villiers en Thomas Roos van die WNNR het eergister ontmoet om die MvV te onderteken.

Dr Clinton Carter-Brown van die WNNR verduidelik dat die presiese omvang van die ondersteuning wat die WNNR sal bied, steeds bepaal moet word. Hy meen egter dat die fokus aanvanklik op die uiteensetting van ’n gepaste energiestrategie vir die munisipaliteit sal wees. So ’n strategie sal die breë doelwitte van die munisipaliteit – soos kostes, kragsekuriteit (met die klem op beurtkrag), volhoubaarheid, die omgewingsimpak en die plaaslike ekonomiese impak – in ag neem.

’n Optimale portefeulje van projekte en beleide sal van die bogenoemde strategie afgelei kan word. Dit sal Eskom-netwerkgebaseerde krag behels wat deur ’n reeks ander voorsieningsbronne, soos sonkrag en biogas, aangevul sal word.

Carter-Brown meen dat die strategie selfs uitgebrei kan word om die bekendstelling van busse, wat deur waterstofbrandstofselle aangedryf word, te behels. Volgens die internasionale nuusorganisasie, Reuters, skaf China en Japan onderskeidelik 1 000 000 en 800 000 waterstofbrandstofsel-aangedrewe busse aan omdat dit selfs meer omgewingsvriendelik en koste-effektief as elektriese busse is.

Vir diegene wat wonder of die proses in Stellenbosch bloot ’n verkiesingsfoefie is, het dr Leon Schreiber, die Demokratiese Alliansie (DA) se kiesafdelingshoof vir die streek, die volgende te sê: “Die plan sal tot uitvoering gebring word omdat dit [in lyn] is met [die] formele DA-beleid, dit ’n deursigtige proses in samewerking met kenners op die gebied is, die Wes-Kaapse regering die projek steun en die DA in Stellenbosch ’n bewese rekord het dat beloftes van uitmuntende dienslewering nagekom word.”

Nokuthula Managa-Gugushe, ANC-raadslid vir wyk 12, meen dat beurtkrag ’n mislukking van Eskom se kant af is en dat die Raad se besluit ’n stap in die regte rigting is. Sy het verder lof toegespreek aan die nasionale regering wat dit moontlik gemaak het vir plaaslike regerings om hierdie proses aan die gang te sit en het klem gelê op die toelae wat plaaslike regerings vanaf die nasionale regering ontvang.

Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder van die Stellenbosch-munisipaliteit, sê dat gedeeltelike befondsing vooraf vanaf die Wes-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme bekom is en dat tekorte deur die Munisipaliteit aangevul sal word. Grobbelaar sê verder dat “die Wes-Kaapse regering behulpsaam sal wees met regsaspekte betreffende munisipaliteite, gedeeltelike befondsing asook implementering”.

Volgens die Munisipaliteit se webwerf, sal die navorsing op potensiële bronne van energieproduksie fokus. Hierdie bronne bestaan onder meer uit sonpanele op dakke, metaanontginning, grasie vir die publiek om elektrisiteit op te wek en aan die munisipaliteit te verkoop, die aankoop van elektrisiteit vanaf onafhanklike kragvoorsieners sowel as die moontlike verkoop van elektrisiteit aan gewillige kopers buite die Munisipaliteit.

Oor die kwessie van volhoubaarheid, benadruk Grobbelaar dat beide munisipale wetgewing en elektrisiteitswetgewing vereis dat die proses volhoubaar moet wees. Hy verwys ook na omgewingswetgewing en sê dat alles uit die aard van die saak deeglik getoets sal word om omgewingsvriendelikheid en volhoubaarheid te verseker.

Volgens Grobbelaar sal die eerste rondte navorsing slegs oorhoofse samewerking behels. Daarna sal die tweede rondte navorsing deur afgevaardigdes in verskeie rigtings soos sonkragopwekking, metaangas-kragopwekking, regsaspekte wat gepaard gaan met die aankoop vanaf onafhanklike kragvoorsieners, en tariefberekenings om private huishoudings aan te spoor, behels. Hy verduidelik dat die Munisipaliteit dus op die drumpel van ’n baie lang proses staan.

Please follow and like us:
Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram