Khanya Dilima: veelsydig op die kolfblad en kampus

Deur Francu Krüger

Khanya Dilima is onlangs beloon met sy eerste smaak van eersteklas krieket nadat hy in die Boland-seniorspan opgeneem is. Dié prestasie is ná talle ure se harde werk op en van die veld af met sterk vertonings vir albei Maties en die Boland Akademie.

Dilima het dadelik tuis gelyk op die hoër vlak van speel. Met sy debuut neem hy drie paaltjies vir die Boland-seniorspan teen Suid-Wes Distrik en in die volgende wedstryd ’n verdere vyf paaltjies teen Border. Hy glo dat alhoewel hy as ’n boulende veelsydige gesien word, hy in die toekoms ook met die kolf kan presteer. 

Rakende die aanpassing na eersteklas krieket vertel Dilima: “Die intensiteit van Maties Krieket se oefeninge het my goed voorberei vir die volgende vlak, maar hier moet jy nie net goed wees nie – jy moet dit ook kan bewys. Die spelers op dié vlak ken hulle eie spel baie goed, wat lei tot moeiliker kompetisise omdat jou teenstanders weet hoe om druk te hanteer.”

Krieket is egter nie Dilima se enigste tydverdryf nie. Tussen oefensessies en wedstryde werk hy aan sy honneurs in internasionale studies en is hy boonop Huis Neethling se prim vir die 2020/2021 termyn. Hy verduidelik dat dit veeleisend was om akademiese verpligtinge ook nog te moes nakom ná lang oefensessies en wedstryde terwyl hy in die isolasieborrel moes bly. 

Dilima verduidelik hoe hy ’n balans vind en produktief bly: “Probeer om dinge een dag op ’n slag te neem en moenie te veel dink aan probleme wat nie dadelik jou aandag vereis nie. Hou dit eenvoudig en kry elke dag soveel as moontlik gedoen.”

Na ’n maand propvol akademiese verpligtinge, sy rol as prim gedurende die verwelkoming van Huis Neethling se nuwelinge, en oefeninge en wedstryde saam met die Boland-krieketspan, kan Dilima ’n welverdiende ruskans neem. 

Hy beplan egter nie om vir lank stil te sit nie en sê: “Ek sien wel uit om daarna te begin werk om myself te vestig as ’n staatmaker in die beste liga. Ek weet daar is nog eindelose harde werk wat wag, maar ek kan met my beste gee en kyk wat gebeur.”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial