Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR WILLIAM SEZOE

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Studenteraad se jaarlikse Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie is vanjaar op 1 Oktober vir die eerste keer sedert dit in 2008 begin is, virtueel gevier. Hierdie toekenning word aan die top nagraadse en meesterstudente in elke fakulteit toegeken. 

Slegs cum laude studente word vir die toekenning oorweeg, maar in sommige gevalle ook studente wat ten spyte van nie-akademiese uitdagings sukses bereik het. Verder word studente wat in leierskap en ander ko-kurrikulêre uitgeblink het, ook vereer. Die hoeveelheid toekennings wat oorhandig word, hang van die onderskeie fakulteite se groottes af. Die jaar is die toekenning aan 48 voorgraadse studente en nege meesterstudente toegeken.

Professor Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US het in sy openingstoespraak genoem dat die sukses van US-studente nog altyd sedert die begin van sy rektorskap in 2015 vir hom ’n hoe prioriteit was. “Sonder studente is daar nie ’n universiteit nie, maar so sal daar ook nie ’n universiteit sonder personeel wees nie. Ons het mekaar dus nodig om van die wonderlike geleenthede gebruik te maak wat hoër onderwys ons bied – die geleentheid om ons gedagtes te verbreed en om lewens te verryk, nie net ons eie nie, maar ook om ’n positiewe invloed op die samelewing oor die algemeen te hê,” noem De Villiers.

Prof. Arnold Schoonwinkel, uittredende Viserektor: Leer en Onderrig, het in sy toespraak studente vir hulle bydraes en prestasies geprys. “Die studente het ’n positiewe verskil  by die US gemaak en ons glo dat hul dieselfde tipe merkwaardige bydraes in ons land en wêreld ook sal maak,” sê Schoonwinkel.

Die US-Alumnus, Renaldo Schwarp (28), is vanjaar met die US-Studenteraad toekenning vir Uitsonderlike Alumni vereer en het as die gasspreker van die geleentheid opgetree. Schwarp het in 2012 ’n BA-graad verwerf en in 2013 voltooi hy ’n nagraadse onderwyssertifikaat aan die US. Hy is tans die digitale hoof van Jacaranda FM.

Schwarp noem dat hy eers twee keer moes seker maak toe hy die nuus via e-pos ontvang. “2020 is ’n warrelwindjaar, so toe ek die e-pos ontvang, het ek eers gedink dis aan die verkeerde Renaldo gestuur, maar ’n paar minute en woorde later in die e-pos het ek dadelik my ouers oor die nuus geskakel. Ek was stomgeslaan, maar ek dink my ouers was meer opgewonde hieroor as ek,” verduidelik Schwarp.

Volgens Schwarp is hierdie toekenning vir  hom ’n tipe simbool wat beteken dat hy op die regte pad is. “Dis eerstens nog iets wat ek op my LinkedIn-profiel kan plaas,” sê hy, “maar ek was van dag een af nog altyd ’n trotse Matie. Ek het ’n lekker Stellenbosch-ervaring gehad; my oomblikke by die drama-departement, op Mystics se stoep en natuurlik ook die laataande en vroegoggende in die MFM-ateljee waar alles eintlik vir my begin het,” vertel Schwarp.

In sy toespraak het hy veral klem gelê op die belangrikheid en die mag van stories. “Die oomblik wanneer ons as jeug hierdie besef, plaas dit ons in ’n posisie om veerkragtig te wees (in ons persoonlike lewe, in die werksplek en tussenin). Deur ons stories – wie ons is; die goeie en die slegte dele te aanvaar en dan te gebruik as die sleutel tot ’n gelukkige lewe, dis hier waar ons outensiteit ’n groot rol speel,” vertel Schwarp.

Schwarp noem dat dit ook  belangrik is dat mense en veral jongmense in hulself moet glo. Een van die grootste lesse wat ek deur die jare geleer het, is dat die oukei is om te sê, ‘ja, ek het goeie werk gedoen’ of ‘ek dink daardie pos sal my uitstekend pas’, en ‘ja, ek verdien hierdie toekenning’, want daar moet geen plek in jou verhaal wees vir jou om jouself klein te hou nie. Hoe gouer ons as jongmense, as Afrika-jeug, besef dat outentiekheid die geboorteplek van konneksie is, hoe beter. Om jou krag, jou vaardighede en wat jy aan die wêreld kan bied, jou eie te maak, is een van die grootste eienskappe wat jy ander kan gee,” sê Schwarp.

Die US vereer ook jaarliks voorgraadse studente wat in hulle spesifieke vakgebiede of bydraes tot die universiteit uitstyg. Ella van Rensburg, ’n nagraadse onderwysstudent en primaria van Huis ten Bosch vir 2019/2020 is een van die studente wat deur die US vereer is vir haar bydrae tot uitstekende studente-leierskap. Van Rensburg noem dat die toekenning vir haar ’n groot eer is. “Ek voel baie geëerd om hierdie toekenning te ontvang. Ek dink dit is ’n goeie inisiatief om erkenning te gee aan studente wat op kampus agter die skerms werk om ’n verskil in ander se lewens te maak,” vertel Van Rensburg.

Verskeie ander top voorgraadse en nagraadse studente is vir hulle prestasies vereer. Toekennings was uitgereik vir top presteerders onder die kategorieë: akademie, sport, kultuur, leierskap en ander ko-korrikulêre aktiwiteite.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial