Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR MARYNA ADSHADE

Matie-alumnus Hykie Berg se tweede boek My stryd met ADHD: Die onsigbare oorlog het onlangs op rakke verskyn en handel oor sy ervaring en worsteling met aandagsgebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS). In die boek is Berg eerlik oor hoe dit kan voel om met ’n geestesongesteldheid te leef en ondersoek hy wat AGHS (beter bekend as ADHD) is. 

Berg het van 2000 tot 2002 Drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en vertel dat die jare wonderlike herinneringe terugbring. “Ek dink die Drama-departement was incredible. Meeste van my herinneringe was maar daar. Die plays en die teater; die dinge wat ons opgevoer het,” vertel hy. 

Volgens Berg was die Rooiplein fassinerend, die sportgronde ongeloofliken Bikini Beach dié plek om Vrydaemiddae na klas te wees. “Ek is baie lief vir Stellenbosch. Ek sal altyd ’n alma-Matie bly.”  

Na sy studies het hy al in talle televisiereekse, soos Binnelanders en Egoli, verskyn en was ook al in verskeie rolprente, soos Dis ek, Anna, Pretville en Mooirivier, te sien. In 2011 het hy ook aan Survivor South Africa deelgeneem en het as die wenner van die reeks weggestap. Dit was ook juis gedurende dié reeks waar hy ’n Christen geword het en daarna besluit het om sy ervaring met die wêreld te deel. 

Die veelsydige akteur voeg toe in 2017 ook skrywer by sy repertoire en publiseer sy eerste boek, Hykie Berg: My storie van hoop, waarin hy oor sy jare as dwelmverslaafde skryf.  In Berg se oë het hy egter meer gehad om te deel en sy jongste boek, My stryd met ADHD: Die onsigbare oorlog, is toe die gevolg hiervan.

“Ek dink die ding wat my geïnspireer het om die boek te skryf, was die groot nood daar buitekant rakende hierdie kontroversiële ding wat ADHD is. Ek het net besef hoeveel mense absoluut oningelig is rakende die korrekte prosedure om iemand gediagnoseer te kry, maar ook die absolute abuse van medikasie,” verduidelik Berg.

Berg vertel dat hy twee jaar gelede besluit het om die boek te skryf nadat hy ’n artikel oor AGHS op Facebook raakgelees het. Volgens die artikel is AGHS-medikasie glad nie verslawend nie. Berg stem egter nie saam nie en argumenteer dat AGHS-medikasie wel verslawend is vir dié wat geneig is om medikasie te misbruik. In sy boek bevraagteken hy die mediese stelsel, die effektiwiteit van AGHS-medikasie en (soos hy dit noem) die oormate van medikasie wat voorgeskryf word. 

Hy bespreek ook hoe AGHS korrek ofte nie gediagnoseer word en die ontstaan, samestelling en newe-effekte van AGHS-medikasie. Hy poog om te wys dat medikasie nie die enigste opsie is nie en skryf ook oor hoe Christene diegene om hulle wat aan geestesongesteldhede ly, beter kan ondersteun en verstaan.

Ten spyte van sy sterk uitsprake, erken Berg wel dat hy nie ’n kenner op die gebied is nie en sê hy: “Ek is nie ’n psigiater of sielkundige of mediese dokter nie. Dis maar net my storie en omdat ek nie die geleerdheid van ’n psigiater het nie, kan mense my dalk bevraagteken.”

Hy besef dat sy boek maklik ’n paar ego’s sal seermaak en op ’n paar tone kan trap, maar voel ook dat daar heelwat gesonde debat rondom die boek gefokus sal wees, veral rakende alternatiewe oplossings vir AGHS. 

“Wanneer dit kom by natuurlike oplossings vir geestesongesteldhede, is die mediese wêreld skepties en pessimisties, en hulle het soms rede om te wees, maar hulle het ook nie al die kennis in die wêreld nie. Daar is absoluut ander maniere en oplossings,” verduidelik hy. Berg glo dat medikasie die laaste opsie moet wees.

Volgens Berg is die boek uniek om verskeie redes. Die boek oorweeg verskillende generasies se denkwyses, maar oorweeg ook hoe inligting, sosiale media en die internet ’n mens se brein tot so ’n mate kan affekteer dat dit kan lyk asof jy AGHS het. Wat die boek egter bo ander soortgelykes laat uitstyg, is die persoonlike vertelling van die tipe emosies en houdings wat Christene met geestesongesteldhede mag ervaar indien hulle hul ervarings by hulle geloof probeer uitbring. Berg skryf ook oor die kerk se rol hierin en hoe min kerke oor dié tipe onderwerp praat.

“Ek dink nie baie Christelike leiers praat daaroor nie. Daar is ook hierdie ekstreme opinies oor hierdie tipe goed. Daar is sekere groepe wat glo dis absoluut van die duiwel af en dis demonies, en dan is daar mense wat glad nie daarin glo nie en net in medikasie glo. My approach tot dit is dat jy altyd ’n holistiese benadering moet volg,” meen Berg.

Oor sy eie benadering tot leef met AGHS, sê Berg dat dit noodsaaklik is om gedissiplineerd te wees en aanspreeklik gehou word vir ’n mens se optrede en gewoontes. “Dit was ’n ongelooflike battle, want jy het ou habits as iemand wat ly aan ADHD en jou habits is ’n resultaat van hoe jy dink. So dit was all over the place,” deel Berg. “Ek moes struktuur gekry het.”

Volgens Berg is sy geloof egter die belangrikste, en sê hy: “Die grootste ding vir my was my verhouding met die Here. Dit was ’n diep-diep-diep pad wat ek met die Here gestap het.” Gevolglik hoop hy ook dat Christen-lesers baie uit die boek sal leer. 

“Geestesongestelheid of geestesgesondheid is real. Dit is nie ’n opgemaakte storie nie en baie mense benodig medikasie en baie mense benodig regtig behandeling vir waar hulle psigies is,” verduidelik hy. Christene moet volgens hom nie skaam wees om met geestesongesteldhede gediagnoseer te word nie; hulle moet medikasie daarvoor sien “as ’n derde wieletjie wat jou help om die tweewielfiets te ry”.

Terwyl geloof sterk in die boek na vore kom, moet lesers egter nie afgeskrik voel indien hulle nie Christene is nie. “Absoluut enige persoon, of hy ’n Christen is of nie, sal baat uit die boek, want die beginsels waaroor ek praat, is universeel. My storie, dink ek, kan baie mense mee vereenselwig,” vertel Berg.  

Vir diegene wat self ’n geestesongesteldheid het, sê Berg die volgende: “’n mens kan dit so maklik jou identiteit maak en ’n slagoffer word van jou diagnose. Jy kan voel jy het altyd iets nodig en jy kan dit ook as ’n verskoning gebruik. My boodskap is dat dit glad nie jou identiteit is nie. Jy kan’n doelgerigte lewe en ’n vol lewe lei al word jy diagnoseer met hierdie tipe goed.”

Berg hoop dat mense wat nie self aan geestesongesteldhede ly nie, baie uit die boek sal leer.  “Ek sal graag wil hê dat mense meer compassion en empatie sal hê,” vertel hy, “maar nie mense sal enable en té veel simpatie wys nie. You can love somebody, maar mense moet ook ander accountable hou. Daardie persoon wat die geestesongesteldheid het, moet verantwoordelik genoeg wees om na sy eie herstelproses te kyk en nie vir ewig en altyd sy diagnose, sy pille en sy gebrokenheid as ’n verskoning te gebruik nie.”

Lesers wat sy eerste boek geniet het en ook daarna uitsien om dié boek te verslind, kan hulself troos met die wete dat Berg ook ’n derde boek in die pyplyn het. Die boek gaan egter iets heeltemal anders wees en gaan handel oor entrepreneurskap en leierskapsbeginsels, maar ook oor hoe om ekstra geld te maak en ’n mens se roeping te vind. 

“Dit gaan maar gaan oor sekere Bybelse beginsels oor hoe om jou lewe [in twee tot vyf jaar] om te draai. Dit sal ’n boek wees oor roeping, leierskap, mindset, belief systems, goal setting, daardie tipe dinge,” verduidelik Berg.

Sy raad aan aspirerende nie-fiksie skrywers, is om eers ’n sagte kussing te kry en dan te gaan sit en net te begin skryf.  “Die beste advies wat nog vir my gegee is, en ek weet nie almal skryf so nie, is start with vomit writing,” verduidelik hy. “Jy moet alles skryf tot jy nie verder meer kan skryf nie en dan lees jy dit weer oor en besef hierdie stukkie moet daar kom, ensovoorts. Dan kan jy begin om die boek aanmekaar te sit en dan begin daar ’n goue draadjie vorm. Aan die begin moet jy nie te veel worry oor inleiding, body [en] slot nie. Skryf net, want jy gaan die ding ’n hele paar keer oorskryf.”

Aan studente in hulle finale jaar, het Berg die volgende advies: “always stay humble, stay hungry. Moenie jou drome vergeet nie. Always stay teachable and stay a student of life. You want to keep on developing, keep on learning skills. Traditional education will make you a living. Personal development will make you a fortune.”

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial