DEUR WILLIAM SEZOE
Die Opvoedkunde Studentekomitee (OSK) van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) het op Donderdag 16 Julie gesigmaskers en handsaniteerders aan verskeie plaaslike laerskole uitgedeel ter viering van Mandeladag. Dié dag word jaarliks op oud-president Nelson Mandela se verjaardag (18 Julie) gevier om erkenning te gee aan hom en sy bydrae tot Suid-Afrika se demokrasie. Volgens Marcel Adams, voorsitter van die Sosiale Impak Portefeulje van die OSK, is Mandeladag “spesiaal, want dit herinner ons aan wat Nelson Mandela vir ons land gedoen het”.
“Dit is ’n dag wat ons kan gebruik om te wys watter verskil ons as ’n nasie saam kan doen,” vertel Adams.
Die OSK het in samewerking met die maatskappy Messiah Industries die maskers en handsaniteerders op Donderdag 16 Julie aan vyf plaaslike laerskole oorhandig. Die skole sluit in Kayamandi Primêr in Stellenbosch, Elnor Primêr, Matroos Holy Trinity R.C. Primêr, Rietenbosch Primêr en C.L. Wilmot Primêre skool.
Volgens Lindie Fortuin, ’n onderwyser van Holy Trinity Primêr in Elsiesrivier, is die skenking ’n merkwaardige bydrae wat verwelkom word.
“Ons leerders het die maskers met dankbaarheid ontvang. Ons het dit uitgegee aan leerders wat dit die nodigste het. Die entoesiasme van die Maties is verblydend en ons waardeer die feit dat ons skool een van die skole op hul harte was vir hierdie jaar se Mandeladag-vieringe. Ons as skoolgemeenskap hoop dat [die OSK se] vlam van welwillendheid altyd hoog in hul harte sal brand,” noem Fortuin.
Volgens Adams het hulle besluit om uit te reik na hierdie skole “aangesien dit minderbevoorregte skole is, en soms nie van die basiese behoeftes beskik nie”.
“Dus was hierdie inisiatief meer soos ’n bydrae tot die gemeenskappe se basiese behoeftes sienend dat maskers nou verpligtend is en handsaniteerders kan help om die virus te beveg,” sê Adams.
Linmari Matthee, ’n vierdejaar onderwysstudent aan die US en lid van die Beyond Eucation (BE) Program, was deel van hierdie inisiatief en sien dit as ’n dag van medemenslikheid. “Die gevoel om bietjie uit die huis uit te kom, was lekker, maar die gevoel om ander te kon help, was lekkerder. Ek glo dat die maskers ’n waardevolle bydrae sal maak om te help veg teen die pandemie,” sê Matthee.
Volgens Matthee is Mandeladag ’n dag “waar mens moet uitreik na jou medemens wie dit die meeste nodig het en om terug te ploeg in gemeenskappe”.