Meraki en All Things Good het beide hul deure gesluit weens die ekonomiese stilstand tydens die Covid-19 pandemie. Foto: Mart-Marié Serfontein

Grendelstaat ruk Stellenbosch-besighede

DEUR DOMINIQUE FUCHS

Die Covid-19-pandemie het die wêreld se ekonomie tot stilstand geruk. In Stellenbosch het talle besighede al hulle deure gesluit.

Van studente se gunstelingrestaurante – Meraki en All Things Good – het beide onlangs hulle deure na agt jaar gesluit. “Hierdie jaar was ’n harde stryd met ons huurder – ’n stryd oor belaglike huurgeld, huurdeposito’s wat aanhoudend opgestoot word en onmoontlike voorwaardes vir ons huurkontrak. Die grendelstaat was die laaste spyker in die doodskis,” sê die span van beide restaurante in ’n onlangse Instagram-plasing. Hulle voeg by dat die studente hul grootste kliëntebasis is, daarom het die grendelstaat tot die twee besighede se ondergang gelei. Die twee restaurante het ook geen sukses met die UIF (Unemployment Insurance Fund) -Covid-19 TERS (Temporary Employee/Employer Relief Scheme) uitbetalings vir hulle personeel gehad nie.

Nóg ’n geliefde studente-restaurant, The Trumpet Tree, het ook permanent sy deure gesluit. “Na 11 jaar van die mees ongelooflike herinneringe is ons hartverskeurd om aan te kondig dat ons permanent ons deure sal sluit. Aan die Trumpeteers, ons gaan die Saterdae-aande grooving en die ontspannende Sondae-middae saam met julle mis,” sê die span van The Trumpet Tree.

Fliekliefhebbers sal verlig wees om te hoor dat Pulp nog kop bo water hou. Hulle is egter ook hard getref deur die pandemie. Lara Odendaal, voorsitter van Pulp, vertel dat sedert 18 Maart het Pulp weens die pandemie geen geld verdien nie. Pulp is egter nog op datum met hulle huurgeld en ander kostes. Pulp-lede betaal huidig geen fooi nie. Volgens Odendaal is dit kommerwekkend, omdat lidmate se gelde gebruik word om die huurgeld en die salarisse van die personeel te betaal. “Op 8 Junie sal die drie kiosks – die kroeg, springmielies en koffie – weer open. Ons sal flieks vertoon sodra dit deur die regering toegelaat word. Daar is gerugte dat fliekteaters op vlak 2 van die grendelstaat sal open. Ons kyk ook na die opsie om in ’n buitelig fliekskerm te belê in die komende maande.”

My Brew, die geliefde koffiewinkel van Stellenbosch-studente, het op 1 Junie weer sy deure oopgemaak. Koffieliefhebbers kan Maandae tot Saterdae tussen 08:00 en 13:30 die My Brew-tak in die Neelsie of in die Tygerberg Studentesentrum besoek. Freddie Kruger, eienaar van My Brew, vertel dat die impak van Covid-19 “ongelooflik groot” op die besigheid was en dat hulle steeds die impak daarvan voel. “Waar ons vroeër byvoorbeeld 50 kliënte per dag gehad het, het ons tans 1 kliënt. Ons turnover is dus ’n 50ste van wat dit voor die pandemie was”, sê hy. Verlede week moes Freddie R4500 spandeer om die besigheid op Facebook te adverteer en om te laat weet dat hulle weer oopgemaak het. “Laas Woensdag het ons 11 koppies koffie verkoop. Dit dek nie eens ons krag en water nie.” In die verlede het My Brew in vakansietye op internasionale en nagraagdse studente gesteun om inkomste te verdien, maar nou is daar amper niks van hierdie studente op kampus oor nie. My Brew se gemaalde koffiebone kan ook aanlyn op hulle webtuiste www.mybrew.capetown gekoop word.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram