SING JOU HART UIT Een van die damesgroepe wat dit uitgespook het om die titel te verower. Foto: Verskaf

Taai situasie by Molassesêr

DEUR MARELI SWART 

* Vertaal deur Dominique Fuchs 

Dit was die een dag van die jaar wat Willows nie verantwoordelik was vir die geraas afkomstig van Wilgenhof se vierkant nie. Die 2020 Molassesêr-finaal het op Woensdag 4 Maart plaasgevind met hope gees in die lug. Die uitverkorenes wat die finaal gehaal het, was opgetooi en het die reeds vuurwarm Stellenbosch aan die brand geslaan. 

Die energie was in oorvloed en toe Yanga Keva, KuKo-beoordeelaar, gevra is oor sy verwagtinge vir die aand, het hy geantwoord: “Ek het nog nie die deelnemers se vertonings gesien nie, sodat ek geen vooropgestelde idees het nie. Vanaand wil ek one-hit-wonders sien. As hulle die toeskouers beïndruk, sal hulle met goeie resultate beloon word.” 

Hierdie jaar het die koshuise en PSO’s nie ’n tema gehad om te volg nie, maar deelnemers soos Harmonie (dameskategorie), en Equité en Capri (gemengde kategorie) het Eskom as inspirasie gebruik om die verhoog te verlig. 

Dit was Equité en Capri se eerste verskyning in ’n finaal. Hierdie twee PSO’s het saamgewerk om verskeie scenario’s voor te stel wat tydens beurtkrag kan plaasvind: ’n date night wat deur Eskom se Push geruïneer word en ’n sterfbed wat gans te vroeg voorberei is. Hulle elektriese optrede is deur Arné Kruger en Arno Schwartz gelei. 

Een van Harmonie se Molassesêr-leiers ChloëBosman het verduidelik dat hulle benadering van die oop tema was om enigiets te doen waarmee Suid-Afrikaners aanklank kan vind. 

“Ons het Suid-Afrika se grootste probleme gebruik, soos beurtkrag, korrupsie en openbare gesondheidsorg, waarmee mense kan identifiseer.”

Dit was die tweede keer dat Harmonie in die finaal was en hulle het die dameskategorie gewen, asook die prys vir die beste choreografie. Volgens Keva het Harmonie nie net gewen weens goeie organisasie en ’n boodskap wat goed oorgedra is nie. 

“Dit was die poëtiese geaardheid van hul kostuums soos die LGBTQIA-vlag op hul skouers, op dieselfde plek waar die Suid-Afrikaanse vlag op ’n militêre uniform sou wees, wat vir hulle laat uitstaan het.” 

Die manne van Hippokrates het weggestap met hulle vierde agtereenvolgende wen, asook die prys vir die beste liedjiekeuse. Die enigste manlike verteenwoordigers van die mediese kampus het meer as gees na die finaal gebring. Hulle onuitputbare energie het toeskouers van die begin af geboei. Tygerberg het nie net die manskategorie gewen het nie, maar die dinamiese duo Kerkenhoff (Kerkenberg en Meerhoff) het ook die gemengde kategorie gewen. 

Die mediese kampus het soos gewoonlik nie teleurgestel nie, maar dis dalk makliker as afleidings soos die Stellenbosse naglewe nie op jou voorstoep is nie. 

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram