TOM KWADRAAT Die Tom-vereniging het ’n stalletjie by die verenigingsuitstalling gehad. Foto: Verskaf

Die Tom-vereniging

TOM Janisch en Tom Grubb het onlangs talle studente se koppe laat draai toe hulle op die Rooiplein naamgenote gesoek het om by hul Tom-vereniging aan te sluit. 

Janisch vertel dat hy en Grubb verlede jaar in dieselfde seksie in Metanoia was. Albei studeer BCom (Internasionale Besigheid) en is tans in hulle tweede jaar. Hierdie jaar ontdek hy dat nóg ’n Tom reg oorkant hom in die seksie ingetrek het en van toe af is hulle goeie vriende. “Op die ou einde was ons drie Toms in die seksie en daar was gereeld situasies waar ons al drie in dieselfde vertrek was en dan roep iemand vir ’n Tom en ons weet nie watter een hulle bedoel nie. Dit het heeltyd gebeur en was nogals irriterend.” 

Janisch het toe op Facebook gesien dat mense groepe stig vir mense met dieselfde name en het dit snaaks gevind. “Tom was die gewildste naam in my hoërskool. Uit 180 mense was daar agt Toms gewees.” Janisch en Grubb het ’n WhatsApp-groep gestig met al die Toms wat hy van sy skooldae af ken. Grubb het nóg Toms by die groep gevoeg en al die Toms is admin gemaak om nog Toms te kan byvoeg. Binne een dag was daar meer as 30 Toms op die groep. 

“Ons het grappe en memes daarop gestuur. Daar het niks verder gebeur nie en toe kry ons die idee om ons groep verder te bemark en uit te brei.” Die Toms het baie studente se aandag getrek toe hulle op die Rooiplein met hulle Tom-kennisgewingbord gaan sit het. Volgens Grubb het hulle 20 nuwe lede vir hul vereniging gekry. “Daar was baie mense wat vir ons geglimlag en gelag het en dit was baie spesiaal. Daar was ook ’n emosionele oomblik toe ’n ou met ons kom praat het oor sy broer wat oorlede is en sy naam was ook Tom.” 

Volgens Janisch is dit ’n unieke platform: “’n Mens se naam is baie belangrik vir hulle, omdat jy ’n konneksie daarmee het. ’n Naam verteenwoordig ’n vreemde menslike konneksie. As mense dieselfde naam deel, deel hulle ook ’n konneksie. Ek ken net agt of nege van die Toms op die groep persoonlik en dit voel of ek ’n konneksie met elkeen van hulle het. Toe ons die ander Toms op die Rooiplein ontmoet het, het ons dadelik iets in gemeen gehad.” Grubb voeg by dat mense wat voel asof hulle nog nooit êrens ingepas het nie, baie waarde uit so ’n groep kan put, omdat almal dadelik iets in gemeen het.” 

Wat as ’n grap begin het, is nou ’n waardevolle platform volgens die Toms. “As iemand blyplek in byvoorbeeld Johannesburg of Skotland kort, kan hulle net op die groep vra en hulle sal verseker iemand vind”. 

Daar is ook Toms van oorkant die waters op die groep, danksy Grubb wat op ’n uitruilprogram was. 

Tans is daar 58 naamgenote op die groep en die twee stigters se plan is om hierdie week ’n meet-up op die Rooiplein te hou en ’n foto te neem. Hulle poog ook om die WhatsApp-groep propvol te maak en dus 256 lede daarop te kry. “Dit sal so snaaks wees as ons ’n social kan hou met ’n groep soos ons s’n. Daar is wel ’n Matt-vereniging waarmee ons graag sal wil skakel”, vertel Grubb. 

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram