Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

BY MART-MARIE SERFONTEIN

Die stof rondom Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe kanselier, Edwin Cameron, het steeds nie gaan lê nie. Kontroversie rondom sy verkiesing tot die posisie het voorverlede Vrydag weer kop uitgesteek toe daar op 28 Februarie ’n klag teen hom by die Regterlike Dienskommissie (RDK) ingedien is.

In September verlede jaar is Cameron, pas afgetrede oudregter van die Konstitusionele Hof, verkies as die US se nuwe kanselier. ’n Maand later het Gelyke Kanse sy saak in die Konstitusionele Hof teen die US, aangaande die US-taalbeleid, verloor. Cameron was egter voor sy aftrede steeds ’n regter in dié saak toe dit voor die hof aangehoor is.

As gevolg van dié klaarblyklike konneksie het Leon Schreiber, DA-parlementslid, US-alumnus envoormalige lid van die US se institusionele forum, ’n beroep op die universiteit gedoen om ondersoek in te stel na enige onbehoorlike inmenging aan die kant van prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van US.

Dié moontlike optrede spruit uit De Villiers se kontak met Cameron voor hy die Gelyke Kansesaak, wat nog onafgehandel was, aangehoor het. Teen die einde van verlede jaar het die ondersoek, gelei deur oudregter Burton Fourie, ook ’n US-alumnus, bevind dat De Villiers nie onregmatig opgetree het nie.

Nou voer advokaat Johan Bruwer in sy klag teen Cameron, wat aanlyn beskikbaar is in ’n Dropboxlêer, aan dat hy “opsetlik of in ’n daad van growwe nalatigheid, verskeie artikels van die Wet op die Regterlike Dienskommissie oortree het” en dat daar ’n “genoegsame botsing van belange” in dié saak was dat Cameron himself as regter moes onttrek het.

Cameron word onder andere aangekla daarvan dat hy “nie eerlik en in ’n regsplegende wyse opgetree het nie”, asook dat hy die onpartydigheid van die howe in gedrang gebring het deur in kontak te wees met De Villiers vóór die Gelyke Kanse-saak in Augustus verlede jaar voor die Konstitusionele Hof aangehoor is en terwyl die partye op uitspraak gewag het.

Advokaat Bruwer voer in sy beëdigde verklaring aan dat die klag wat hy by die RDK ingedien het, spruit uit verskeie e-posse en briewe tussen De Villiers en Cameron, asook tussen die US en Gelyke Kanse se regsverteenwoordigers en die getuienis wat in die Fourie-ondersoek na vore gekom het.

Volgens Bruwer se beëdigde verklaring, het De Villiers vir Cameron reeds in Julie gebel en ’n versoek aan hom gerig dat hy die nominasie vir kanselier van die US aanvaar. Volgens die verklaring het Cameron vir De Villiers in ’n e-pos (wat in die beëdigde verklaring gesien kan word) laat verstaan dat hy nie in ’n posisie was om die nominasie te aanvaar nie, aangesien sy posisie as regter “gekompromitteer sou word indien hy die nominasie aanvaar” aangesien hynog in sy hoedanigheid as regter sou optree wanneer die Konstitusionele Hof die Gelyke Kanse-saak in vroeg Augustus sou aanhoor.

De Villiers het daarna daarvan afgesien om verder vir Cameron te probeer oortuig. Cameron het eers twee weke ná die verhoor, op 20 Augustus afgetree. Die beëdigde verklaring van Bruwer hou verder dokumente voor wat beweer dat ’n aantal US-alumni ook die oudregter genader het om die posisie te aanvaar tussen 21 Augustus en Cameron se uiteindelike aanvaarding van die posisie op 30 Augustus.

Cameron is klaarblyklik “genader deur advokaat [Jean] Meiring, [’n US-alumnus], en Chris Otto, Michiel le Roux en Edwin Hertzog (sakemanne van Stellenbosch), om homself beskikbaar te stel as kandidaat vir die kanselierskap”.

Volgens die Fourie-verslag (wat op die US-webtuiste beskikbaar is) sou Cameron die nominasie heroorweeg, maar as voorsorgmaatreël moes diegene wat hom genader het om die kanselierskap te oorweeg ’n aanduiding kry van advokaat Jan Heunis, die voormalige president van die US-konvokasie en regverteenwoordiger vir Gelyke Kanse in hul saak teen die universiteit, “tot sy ingesteldheid daaroor”.

De Villiers het toe vir adv. Heunis gekontak en hom gevra of hy en Gelyke Kanse sou instem dat Cameron genomineer word. Adv. Heunis het toe vir Cameron laat weet dat Gelyke Kanse wel geen besware teen sy aanvaarding van die nominasie het nie, maar dat dit nie beteken dat hulle die besluit goedkeur nie. Dit was eers hierná dat Cameron die nominasie aanvaar het.Volgens Bruwer was dit “uiters onregverdig” van Cameron om hierdie soort druk op Gelyke Kanse te plaas en hy meen dat dit deel uitmaak van Cameron se problematiese handelinge.

Na aanvraag op kommentaar oor die saak aan Martin Viljoen, die US se woordvoerder, het Viljoen gesê dat die Universiteit kennis neem van die klagte wat by die RDK ingedien is, en “verwag dat die klagte deur die kommissie oorweeg en hanteer sal word”.

Verder het die Universiteit nie enige ander kommentaar te lewer oor die nuwe verwikkelinge nie. Viljoen het egter benadruk dat die US homself op hierdie stadium met die Fourie-verslag van verlede Desember, volstaan. Daar word nou gewag op ’n respons vanaf die RDK.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial