HIGH FIVE Chantelle Swart en Khomotso Mamburu gedurende die Varsity netbal finaal. Foto: Christiaan Kotze

Netbal-beker bly in die noorde

ANNERINE SNYMAN

 MATIES Netbal het Maandagaand, in die Varsity Netbal-finaal in Pre­toria, ’n enorme poging teen die Universiteit van Pretoria (Tuks) aangewend en net-net nie diebeker saam met hulle huis toe ge­bring nie.

Dit was behoorlik ’n noord-suid-stryd met Maties wat gepoog het om hulle oorwinningsgetal teen Tuks op te stoot. Maties het nog net een keer van tevore teen Tuks in hierdie toernooi gewen en dit was in 2015 se halfeindronde.

Hoewel die spel heen en weer was soos beide spanne links en regs balle onderskep het, het Mat­ies gesorg dat hulle op Tuks se hakskene bly. Maties het in die uit­speelrondes 53-46 teen Tuks, wat die toernooi onoorwonne afgesluit het, verloor.

Die wedstryd was deurgaans gelykop, met Maties wat halftyd 35-34 voorgeloop het.

Die wending het egter in die laaste twee minute plaasgevind toe Tuks dit vermag het om die balle een vir een deur die net te kry om die beker met ’n eindtelling van 48-43 te gryp.

Zanele Mdodana, Maties-af­rigter, het na afloop van die wedstryd gesê hoe ongelooflik trots sy op haar spelers is.

“Hulle het hier uitgekom, teen die skare, teen almal en hulle het opgestaan en opgedaag en ’n goeie stryd gegee en dit is waaroor ons span gaan,” sê sy.

Volgens Mdodana kan die span trots oor hulle vertoning voel, want “hulle het alles gegee wat hulle gehad het”.

Mdodana het melding gemaak van “kritiese beslissings” deur die skeidsregters wat die wedstryd se spanning laat bou het en die wedstryd naelskraap gemaak het.

“Ek gee dit vir Tuks. Hulle het op die baan gegaan en geveg,” sê sy.

Mdodana het haar senior-spe­lers, waarvan onder andere Jo Prins en Sasha-Lee Petersen (wat al vir ses seisoene deel van die Mat­ies-span is) deel is, geprys vir hulle “fenominale” spel.

“Ja, hulle sou daarvan hou om die goud om hul nekke te dra en die trofee vas te hou, maar ek is steeds trots dat hulle vandag opgedaag het en die oomblik inge­neem het. Hulle kan baie trots op hulleself wees.”

Khomotso Mamburu, Maties se hulpdoelverdediger, is as die spe­ler van die wedstryd gekroon. Sy was ook deel van verlede jaar se Kovsies-span wat die goud gewen het.

“Dit is nogal hartseer, om te verloor, maar dit is deel van netbal. Jy gaan elke wedstryd in met die moontlikheid om te wen of ver­loor,” sê sy.

Mamburu verduidelik dat sy elke oomblik van haar laaste sei­soen by Maties geniet het en dat sy baie dankbaar vir die geleentheid is.

Maties speel volgen­de jaar weer netbal en sal intussen met hulle voorsei­soen-voorbereiding besig wees.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram