AMBER PAYNTER
HUIDIGE en toekomstige studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal binnekort grade in die biomediese ingenieurswese-veld kan studeer. Die Instituut vir Biomediese Ingenieurswese (IBE) het op 4 September aangekondig dat hulle vanaf 2020 en 2021 vier nuwe nagraadse grade in hierdie veld sal aanbied. Een van hierdie programme sluit ’n meestersgraad in Ingenieurswetenskap in Biomediese Ingenieurswese in.
Studente kan kies tussen ’n navorsing-gefokusde of module-gebaseerde variasie van die graad. Daar is ook ’n doktorsgraad in Biomediese Ingenieurswese, asook ’n “ o o r b r u g g i n g s k u r s u s ” nagraadse diploma in Ingenieurswese-wetenskap. Volgens prof. Martin Nieuwoudt, direkteur van die IBE, is die biomediese ingenieurswese-veld baie progressief. Dit stel ten doel om gesondheidsverwante probleme op te los deur velde soos fisika, wiskunde, ingenieurswese, biologie en gesondheidswetenskappe te kombineer.
Studente van die bogenoemde velde het glo groot belangstelling getoon in biomediese ingenieurswesegrade. Nieuwoudt glo dat die US hierdie aanvraag moet aanspreek om in Afrika en wêreldwyd kompeterend te kan wees. “Die US het ’n gebrek aan akademiese opsies vir toekomstige studente wat graag grade in Biomediese Ingenieurswese wil voltooi.
Die feit is dat die US histories nie kompeterend in hierdie veld is nie, ten spyte van massas druk van studente en die industrie. Dit is hoogtyd dat ons iets hieraan doen,” het Nieuwoudt gesê. Die IBE is in 2015 gevestig en streef daarna om ’n groter kapasiteit vir biomediese navorsing by die US te skep.
Die IBE het ’n mandaat om by verskillende US-fakulteite te werk, insluitend Ingenieurswese, Natuurwetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en AgriWetenskappe. Nieuwoudt is opgewonde om die droom wat in 2014 begin het, te sien realiseer. Hy glo dat die nuwe grade die US sal help om bekendheid in die biomediese ingenieurswese-veld te verwerf.
Corene Moller, wat tans haar meestersgraad in Mediese Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit doen, hoop om gekeur te word vir die doktorsgraad in Biomediese Ingenieurswese aan die US in 2020. Onder die toesig van Nieuwoudt, hoop sy om ’n innoveerder, tegniese konsultant en operasionele praktiseerder in Biomediese Ingenieurswese te word. “My sterkpunt is in die veld van ingenieurswese en medisyne. Vandat ek 15 jaar oud is, is my droom om in beide velde uit te staan en ’n biomediese ingenieur te word. Ek hoop om my kennis uit te brei om mense se lewenstandaarde te verbeter en daadwerklike oplossings vir Afrika te vind,” het sy gesê.
– Vertaal deur Dominique Fuchs