Tussen deur die aksie van Max Payne kan oplettende spelers afkom op verskeie easter eggs, soos dié verwysing na Buffy the Vampire Slayer. Foto: Verskaf

Max Payne: ’n Noir Wonderwerk

Maryna Adshade

Vir die speletjies fanatici wat al video speletjies van moedersknie af speel, is Max Payne hopelik geen vreemdeling nie. Hy is die hoofkarakter van drie speletjies: Max Payne, Max Payne 2: The Fall of Max Payne en ook Max Payne 3.

Die eerste skietspeletjie in die reeks het in 2001 uitgekom en draai rondom die lewe van Max Payne, ’n NYPD polisieman wat later as DEA agent werk, nadat hy sy vrou en baba dogtertjie verloor het. Nadat sy gesin vermoor is deur dwelmverslaafdes, hoog op ’n ontwerper dwelm Valkyr, span hy kragte saam met sy beste vriend (ook ’n DEA agent) om die dwelmverskaffers op te spoor. Die ander agent word doodgemaak en Max word valslik beskuldig. Max word deur die polisie, die mafia en ’n genadelose korporasie gejag en hy verloor sy beroep, sy reputasie, sy gesin en sy lewe in die “Amerikaanse Droom”.

Die speletjie was op sy dag beslis voor met grafika en is vol kleiner details. Na enige geveg is die mure vol koeëlgate en is sommige voorwerpe in die area verwoes. Die musiek is ook baie goed, maar van die stem akteurs klink onoortuigend en die klank gee dikwels probleme op hededaagse toestelle. Die storielyn is boeiend en die hele reeks (en sy temas) is baie noir. Dit is duidelik dat die ontwikkelaars deur John Woo beïnvloed is en daar is verskeie hommages aan sy werk. Elke geveg is propvol aksie en bullet time help spelers om op hul hoede te wees. Bullet Time, die reeks se bekendste kenmerk, bied spelers die geleentheid om die aksie in slow motion te sien gebeur. Spelers kan ook tussen ’n verskeidenheid van wapens kies.

Max Payne 2: The Fall of Max Payne het in 2003 uitgekom as die tweede speletjie in die derdepersoon skietspeletjiereeks en spelers is sonder versuim teruggeplaas in die middel van die aksie. Hierdie speletjie spreek egter meer temas aan as sy voorganger en die speler sien hoe Max verderaan worstel met skuldgevoelens rondom sy verhouding met Mona Sax. Max ontwikkel verder as ’n karakter en die interne dialoog in dié speletjie is interessanter as in die eerste speletjie. Baie van die karakters van die eerste speletjie word ook weer ingesluit, maar die keer met beter ontwikkelde stories.

Dit is duidelik dat die ontwikkelaars baie tyd aan Max Payne 2 spandeer het. Baie klein foute uit die eerste speletjie is reggestel. Wapens hanteer en mik beter, bullet time werk nóg beter en lyk fantasties, en Max se bewegings lyk beter. Dit is moeilik om te glo wat hulle reggekry het in daardie tyd in net twee jaar. Die storielyn en musiek is weereens briljant en geen area in die speletjies is afgeskeep nie. Spelers kry ook die geleentheid om uit die oogpunt van Mona Sax te speel en die verandering in perspektief maak die storielyn en gevegte baie interessant. Die speletjie bied, nes die eerste een, ook ’n paar geheime wat ontdek kan word deur die loop van die storie. Dié keer is daar egter ’n geheime einde beskikbaar vir enige speler wat kans sien om die speletjie op die moeilikste speelstyl te voltooi.

Amper tien jaar later verskyn Max Payne 3 in 2012. Ten spyte van hoe goed die grafika, karakters se beweging en karakters se interaksie met voorwerpe en die omgewing was, sal baie lojale Max-aanhangers dadelik sê dat die tweede speletjie beter is. Die karakter se naam en stem het dieselfde gebly, maar die atmosfeer en algehele gevoel van die speletjie het drasties verander. Max verander sy voorkoms deur die helfte van die speletjie en verruil sy kenmerkende swart leer baadjie vir ’n wit, moulose hemp en ’n knoopshemp met blomme. Hy bevind hom ook nie meer in New York nie, maar eerder in Brasilië. Die bekende gesigte van die eerste twee speletjies word agter gelaat en dit voel asof net die naam van die hoofkarakter agtergebly het.

Max Payne 3 is egter wel die moeite werd. Die speletjie is bietjie moeiliker as die vorige twee en spelers sal vind dat hul graag die speletjie se achievements op hul profiele wil hê. Die ontwikkelaars spreek ook uiteindelik Max se pynpilverslawing (wat in die eerste speletjie ontstaan het) aan en Max lewer kommentaar of maak verskonings elke keer as hy ’n pil drink. Die speletjie en die gevegte is ook so meeslepend dat spelers nie sal wil ophou speel nie. Max reageer anders op sy omgewing en kan agter voorwerpe wegkruip. Vyande kom ook nou van alle kante af aan. Bullet time is nog beter en enige geveg kan in ’n oogwink verander met die gebruik daarvan. Die ontwikkelaars het dit reggekry om die aksie beter as ooit tevore te maak en alle geweergevegte is visueel betowerend. Spelers kan ook vir die eerste keer aanlyn teen ander spelers speel. 

Enige iemand met ’n liefde vir video speletjies kan gerus belê in een van die drie speletjies, indien nie al drie nie. Max is ’n interessante karakter en die speletjies is fenominaal.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram